Kinders word nie net gevat nie
Maatskaplike werkers is nie net “drake wat kinders vat nie”, die draak van dwelms is dikwels die oorsaak dat ouers hul kinders verloor.

Vele mense het ’n heel ander prentjie oor wat die werk van maatskaplike werkers is. Dit is die mans en vroue wat moet intree vir kinders, as die ouers die kinders mishandel of nie behoorlik na hul omsien nie.
“Ons vat nie net mense se kinders nie. Daar volg ’n hele proses én die voorsittende beampte (Kinderhoflanddros) het die finale sê daaroor,” het me. Linette du Preez (maatskaplike werker, CMR) gesê.
Hulle het die koerant genader vir ’n onderhoud na aanleiding van al die berigte wat oor die dwelmverslaafdes in ons dorp geskryf is.
Die meeste bedelaars is verslaafdes wie se kinders weggevat is oor hul dwelmafhanklikheid.
Die proses om kinders weg te neem by ouers werk as volg:
• Slegs in ernstige gevalle, soos byvoorbeeld dwelmmisbruik en waar kinders se lewens in gevaar is, kan kinders met ’n hofbevel weggeneem word.
• Met ander gevalle, waar daar vermoed word deur ’n aanmelding dat ’n kind nie in sy ouerhuis die regte behandeling kry nie, moet die saak ondersoek word.
• Na gelang van waar die huis/plek geleë is waar die probleem is, sal ’n maatskaplike werker van die CMR, SAVF Maatskaplike Dienste, Kindersorg of die Departement van Maatskaplike Dienste begin met ’n ondersoek. Die huis van waar die beweerde voorvalle plaasgevind het, sal besoek word.
• Sou die maatskaplike dienste sien dat die situasie kan verander, sal voorkomende dienste gelewer word, soos om met die ouers en kinders deur middel van terapie te werk.
• Verbeter die situasie nie, maak die maatskaplike werker ’n aanbeveling aan die Kinderhof dat die kind weggeneem moet word.
• Die finale besluit om ’n kind weg te vat, al dan nie, lê uitsluitlik by die voorsittende beampte (landdros) van die Kinderhof.
Dis nie sommer net van wegvat nie
Me. Du Preez sê baie mense is ongeduldig as hulle sake aanmeld, omdat kinders nie sommer weggevat word nie. Sy sê dat sekere ondersoeke en sake soms tot tussen drie en ses maande kan neem, voordat ’n finale besluit geneem word.
“Baie mense dink ons vat net voor die voet kinders weg, maar dit is nie wat ons doen nie. Ons tree net in belang van die kinders op. Ons is ook niemand se kliënt nie!”
Daar is verduidelik dat kinders wat in ’n plek van veiligheid geplaas is, niks te doen het met aanneming nie, aangesien dit net ’n tydelike proses is.
“Die maatskaplike werker tree op as herenigingswerker tussen die kinders en die ouers.”
Streng keuringsproses vir pleegouers
Alle ouers wat as pleegouers optree, kry intensiewe opleiding alvorens kinders in hul sorg geplaas word en die maatskaplike werker lewer steeds dienste na die plasing.
Nie enige persoon kan net ’n pleegouer word nie, ’n keuringsproses word gevolg.
“Dit moet ’n baie spesiale persoon wees, wat in ’n beter posisie is as die eie ouers en wat ook die krisisse wat saam met hierdie kinders kom, die hoof kan bied.”
Baie ouers wie aangespreek word deur die maatskaplike dienste, skrik so groot dat hulle dadelik verander en dit nie nodig is om die kinders weg te neem nie.
“Ander spandeer so baie tyd en geld aan prokureurs om teen ons te veg, pleks hulle net erken hulle het ’n probleem en iets daaraan doen.”
Pleegouers het ’n ongelooflike invloed op kinders en hulle kry nie betaling daarvoor nie.
“Kinders word by hierdie mense geplaas om hulle ‘gesond’ te maak, sodat hulle produktiewe landsburgers kan word.”
Daar is ook trots vertel van verskeie sake waar kinders weer by hul ouers teruggeplaas is, nadat die ouers tot inkeer gekom of die situasie verander het.
Verder is daar ook kinders, wat hul lewe lank in pleegsorg was, wat suksesvol hul verlede agter hul geplaas en bo uitgekom het.
“Met intense terapie en baie geduld en liefde kan hierdie kinders hul agterstand oorkom. Biologiese ouers, soos dwelmafhanklikes, moet egter ook onthou dat hul kinders se lewens aangaan. Jou kind se lewe kan nie on hold gehou word, omdat jou lewe on hold is nie!”