News

Broer in eindstryd – JP veg om weer te kan loop

Dit is 'n jaar na die motorongeluk van die voormalige Valke-kaptein, JP Mostert (30), broer van Springbokrugbyspeler, Franco Mostert (27), wat Saterdag slot speel vir die Lions rugbyspan in die eindstryd van die Superbeker teen die Crusaders.

Die ongeluk het hom van die bors af ondertoe verlam gelaat, maar hy glo dat hy weer eendag sal kan loop.

Dit gaan elke dag ‘n bietjie beter met JP, wat op 21 Julie verlede jaar sy nek gebreek het in ‘n motorongeluk op ‘n grondpad buite Groblersdal.
JP het eers vir die Pumas gespeel voor hy in 2013 as slot vir die Valke uitdraf het. Hy was juis op daardie rampspoedige dag verlede jaar saam met sy goeie vriend, die Valke-flank, Jacques Verwey (28), op ’n plaas.

Franco Mostert(Springbokrugbyspeler) en sy broer JP Mostert(Voormalige Valke kaptein) na die motorongeluk.

JP en sy vriend het in ‘n enkelkajuitbakkie agter Jacques aangery om by ‘n restaurant te gaan eet, toe die ongeluk plaasgevind het.
JP was in die passasiersitplek.

Lees ook: Franco Mostert se oomblik van bitter-soete vreugte

Die bakkie het in die leë kanaal tot stilstand gekom. JP se vriend, wat bestuur het, het nie die pad geken nie en sy sig is ook deur die stof belemmer.
Die spoedmeterlesing het op 31 km/p/h vasgeslaan.

JP het spinale beserings opgedoen en is deur Swift EMS na Groblersdal Hospitaal geneem, waar hy gestabiliseer is. Hy is later deur die Netcare 911 helikopter na Netcare Milpark Hospitaal gevlieg.

Nico Pretorius, eienaar van Swift EMS, sê dat JP se vriend nie beseer is tydens die ongeluk nie.

Me. Jannet Mostert, JP se ma, sê dat JP geen stukkende plekke aan hom gehad het nie, maar dat die skanderings getoon het dat hy sy nek gebreek het.
Dokters het gesê dat sy kans om weer te loop 10% is.

Lees ook: Opvolg: Valke kaptein steeds in hospitaal

JP het spinale en longbeserings gehad en is vir sowat ‘n maand in ‘n geïnduseerde koma gehou. Hy het later ‘n nekoperasie ondergaan om ‘n plaat en skroewe in te sit waar hy sy C5- en C6- nekwerwel gebreek en die ligament geskeur het.
Dokters het gesê dat as dit nie vir sy gespierde nek en skouers was nie, was hy dalk opslag dood.

Weens infeksie in sy longe, moes hy om sy lewe veg en het hy meer as 20 prosedures ondergaan om die vog uit sy longe te dreineer.
Weens die longprobleem was JP vir maande aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel in die waakeenheid van Netcare Milpark Hospitaal in Johannesburg.
Hy was vir ses maande in die intensiewe sorgeenheid en vir vier maande in rehabilitasie. Sy onderlyf is verlam, maar hy het gebruik van sy arms en gedeeltelik van sy hande. Die gevoel en beweging in sy hande verbeter elke dag.

JP Mostert was vir maande aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel weens infeksie in sy longe.

JP is sedert middel Mei by sy en Zandré van der Walt (sy verloofde) se huis in Kempton Park.
Me. Mostert sê dat haar seun tans ‘n tuisversorger het wat hom help om oefeninge te doen en na hom omsien, terwyl Zandré as onderwyseres werk.
Hy ontvang ook twee keer per week opleiding by ‘n gespesialiseerde biokinetikus by ‘n Bodytec-oefenateljee. Hy werk hard en danksy harde oefening sien hy en Zandré elke dag ‘n verbetering in sy toestand.

‘n Foto van JP en sy verloofde, Zandre van der Walt.

Hoewel hy die gebruik van sy bene verloor het, het hy nie ‘n tikkie van sy positiwiteit verloor nie.
“Met die sterk veiligheidsnet van goeie vriende, familie en Zandré, wat hom motiveer, inspireer en vir hom omgee, kan hy nie anders as om positief te bly nie. Ons hoop en glo dat JP weer eendag sal kan loop,” sê me. Mostert.

JP oefen hard met die doel om sterkter te word om sy droom om eendag self kansel toe te stap, te kan verwesenlik.
Me. Mostert sê dat JP en Zandré se troudag vir eers uitgestel is, terwyl hul fokus op sy oefeninge sodat hy sterker kan word.

JP het die geleentheid gehad om met behulp van ‘n robotpak sy eerste tree na die ongeluk te kon gee tydens een van sy terapiesessies.
Die robotpak ondersteun sy gewig en laat hom regop staan. Dit laat hom dan ook toe om te loop.

JP het dié ervaring op sosiale media gedeel deur beeldmateriaal op die JP Mostert Faith Foundation Facebookbladsy te laai.
Hy het die ervaring beskryf as ‘ongelooflik’ en gesê: “Ek glo steeds dat ek weer eendag sal kan loop, op my eie!”

 

Lees ook:

 

Dit is bloedmaan vanaand

Spiesgooi kampioen vermoor – medaljes opgespoor

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button