Flippie du Plessis word môre ’n Bulldog!
Die geliefde leerling van Laerskool Middelburg wou vreeslik graag die eerste rugbyspan se gelukbringer wees.

Flippie het met verlangende oë staan en kyk wanneer die span opwarm. Wanneer die spelers in ’n kringetjie saamgetrek het, het hy tussen die veel groter spelers se bene deur geloer en sy armpies om hulle lywe geslaan.
Wanneer “meneer” Darius Botha ernstig met die span gepraat het, het Flippie grootoog geluister en sy kop geskud, asof hy self deel van die aksie sou wees.

En toe kry Flippie tydens ’n ligawedstryd teen Middelburg Primary ’n partner in crime.
Die eerste span se kaptein, Nicus van der Merwe, het Flippie aangemoedig om voor die span uit te draf wanneer hulle tussen die jubelende ondersteuners deurhardloop.
Die enigste probleem was dat enige kortbroek vir Flippie soos ’n langbroek gelyk het!
Dit het die tweemanskap egter nie gekeer nie. Tussen die Koedoekop-spanmaats is daar toe ’n langkortbroek opgespoor.
Boonop ‘n paar wawiele gemaak
Met ’n glimlag wat van oor tot oor gestrek het, het Flippie voor die span uitgedraf en boonop ’n paar wilde wawiele gemaak.
Net daar is Laerskool Middelburg se eerste gelukbringer gebore!
Maar dit was maar net die begin.
Flippie draf ’n paar minute saam met die eerste span uit tydens die provinsiale uitspeelwedstryde. Hy skop selfs pale toe.
Nog is dit nie die einde nie!

Flippie word ook vir die krieketspan gekies, laat sy eerste paaltjie kantel en teken ’n paar lopies aan.

Net toe die geliefde kleinseun van wyle Philip du Plessis, ’n prokureur van Middelburg, dink sy jaar kan nie beter nie, word hy gekies as die Bulldogs sewesrugbyspan se gelukbringer vir die raakrugbytoernooi wat by Hoërskool Middelburg aangebied word.
Hy gaan nie net in Bulldog-kleure uitgedos word nie, maar sal ook die span op die veld lei.
Flippie, klein van postuur, groot van gees!
KYK DIE VIDEO HIER:
(69)Flippie du Plessis is môre die Bulldogs se gelukbringer by ’n raakrugb… | TikTok