News

2800 wit kruise vir boere – en die getalle groei

2 800 wit kruise is tussen Polokwane en Mokopane geplant vir boere wat op plase vermoor is - aan die einde van Augustus word die stille getuienis van plaasmoorde, met nog vyftig aangevul.

Dit te midde van nog ’n wrede en sinnelose aanval op ’n 81-jarige plaasbewoner van die Groblersdal omgewing.

Die beskermvrou van die monument wat ook in die omgewing gevestig is, Lita Fourie, sê dat al die kruise nog nooit getel is nie, maar dat daar meer as 2 800 kruise is. Daar gaan hierdie jaar nog 50 kruise geplant word.

•Mnr. Jaap de Beer (81) is Vrydagaand in sy woonstel op die plaas Rooiboskloof net buite Groblersdal aangeval en beroof.
Vyf mans het toegang tot die plaas verkry deur die heining te knip.

Een van die huise op die plaas behoort aan die plaaseienaar se seun, mnr. Dawie van Staden, wat kort na 21:00 gekontak is deur sy suster om te hoor hoekom sy honde so blaf.

Lees ook: Pa ‘skiet’ gesin uit gevaar tydens plaas aanval

Mnr. Van Staden en sy vrou, Marilise, was by die Utopia Winterdans toe hy geskakel is.
“Ek het aan my sussie verduidelik dat ek nie by die huis is nie, maar dat hulle nie uit hulle huis moet gaan nie. Op daardie oomblik het ek ‘n SMS gekry dat die alarm van die heining om die huise afgegaan het. Die alarm gaan nooit af nie en ek het geweet iets is nie reg nie,” vertel mnr. Van Staden.

Hy het dadelik na die plaas gejaag en eers om die kamp gery, waar hy op die gat in die heining afgekom het.

“Ek het nie geweet of die persone wat die draad geknip het nog in die kamp is of nie. Ek het vir eers by die gat gestaan en op die bandradio vir bystand geroep. Ek het vir oom Jaap gebel. Sy foon het gelui maar is na ‘n paar luitone doodgedruk. Ek het weer gebel en toe is sy selfoon sommer af.”

Hy het dadelik onraad vermoed en na die omskepte lapa gejaag waar mnr. De Beer woon.

Mnr. Van Staden het gesien die slot van die veiligheidshek is oopgebreek.

Mnr. De Beer het verbete geveg teen die aanvallers wat sy arm met ‘n metaalstaaf gebreek het. Hulle het hom ook met die hangkas se laai oor die kop en sy lyf geslaan.

Lees ook: Plaasaanval naby Marble Hall

Hy het ‘n diep sny aan sy kop opgedoen, sy linkerarm is gebreek en hy is vol bloukolle, snye en kneusplekke.

Mnr. De Beer is per ambulans na Life Midmed Hospitaal in Middelburg vervoer, waar hy ‘n operasie ondergaan het op sy arm.
Die aanvallers het met sy selfoon en ‘n .22 pistool van die toneel af gevlug.

‘n Groot groep boere, sekuriteitsmaatskappye en buurtwaglede het soos een man by die plaas opgedaag om na die verdagtes te soek.

Volgens a/o Stanely Magaela, Groblersdal polisiewoordvoerder, is daar tot dusver geen arrestasie gemaak nie.

•Magda Brits van Stoffberg, is een van die ongelukkiges wat al ‘n kruis by die Witkruismonument tussen Polokwane en Mokopane moes gaan plant. Haar pa is in September 2003 vermoor. Sy het intussen by die organisasie van die monument en die oprig van kruise, betrokke geraak.
Mev. Brits kan die moord op haar pa soos gister onthou.

Lees ook: Plaasaanval: Boer doon voor helikopter hom kan oppik

“Hy het ons op ‘n Sondagoggend gebel en gesê dit lyk of die honde gif ingekry het,” het sy vertel.
Daar is gaar gemaakte wors, wat by haar pa se winkel self op Tonteldoos gekoop is, met gif in op die werf gekry. Mev. Brits het gesê dat sy tot vandag toe vermoed dat daar inligting van iemand in hul binnekring was, omdat die honde nooit aan rou vleis sou eet nie en die aanvallers dit geweet het.
Die polisie is ontbied en in kennis gestel van die vergiftiging.

Die daaropvolgende Woensdagmiddag, het drie mans die plaaswinkel binne gestap, en Lappies Labuschagne in die agterkop geskiet toe hy sy rug op hulle draai. Hulle het gevlug met ‘n skamele R196 en ‘n paar sent.

Die moordenaars is gevang toe ‘n inwoner van Draaikraal alarm gemaak het oor mans wat hulle as polisie voor doen en slaapplek by sy huis kom soek het. Hulle dien tans elk twee lewenslange vonnisse uit.

Mev. Brits sê dat dit verbysterend is hoe baie kruise daar jaarliks by die monument bygevoeg word.

Lees ook: Opvolg: Seun oor plaasaanval: ‘Dit kan nie met my gebeur nie’

Vrydag, 31 Augustus, sal die monument in die nag met ligte en kerse belig word. Saterdag, 1 September, sal daar tydens ‘n seremonie kruise geplant word.
“Ons is in die verlede deur die internasionale media beskuldig dat ons sommer net kruise plant. So ons maak nou seker dat elke kruis ‘n naam op het,” vertel mev. Fourie.

Sy is ook in die proses om die vyf hektaar grond waarop die kruise staan, amptelik as monument te laat verklaar.

Sy sê dat politiekepartye dikwels probeer om die kruisoorhandigingsdag te gebruik om hulself te adverteer en dat sy hierdie jaar geen politieke sprekers gaan toelaat nie.

Die kruisoorhandigingseremonie word gebruik om traumaberading aan die naasbestaandes van moordslagoffers te gee.

Indien iemand die seremonie wil bywoon of by die monument betrokke wil raak, kan hulle mev. Fourie op 060 414 6129 bel of vir haar ‘n e-pos stuur na tabita.fourie7@gmail.com.

 

Lees ook:

 

Dit is bloedmaan vanaand

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button