News

Brand verswelg lodge, dubbelverdieping grasdakhuis, ‘n druiwe wingerd en verskeie ander geboue

Ten spyte daarvan dat boere tot byna middernag teen ’n verwoede vuur baklei het, is derduisende hektaar weiding, ’n lodge, ’n woonhuis en ’n druiwe wingerd afgebrand.

Maar hierdie was geen ‘Act of God’ nie meen gemeenskapslede wat gehelp het om die brand te bestry. Talle boere en inwoners in die Rooikraaldam omgewing het met www.mobserver.co.za gepraat. Hulle wil egter nie by name genoem word nie omdat almal vrees dat hulle volgende geteiken sal word.

Een so boer sê dat die brand reeds Vrydagnag in Zaaiplaas ontstaan het en al met die berg langs gebrand het. Daar is ’n voorbrand teen die bergreeks gemaak om te keer dat die brand na die onderliggende vallei versprei.

Saterdag was dinge rustig maar daar is Sondag vroegoggend weer vir bystand geroep. Met die wind wat heeltyd van rigting verander en die kwik wat verby die 30° C gestoot het, was dit chaos om oral te probeer keer dat die vuur nie versprei nie.

 

’n Vuur het hierdie keer vermoedelik op die grens tussen Bergland Safari en Zaaiplaas ontstaan.

Maak nie saak hoe daar gekeer is nie, die vlamme het Bergland Safari lodge en sowat 80% van die plaas se weiding verswelg. Daar is op ’n buurplaas net soveel verwoesting gesaai met ’n dubbelverdieping grasdakhuis, ’n druiwe wingerd en verskeie ander geboue wat in die slag gebly het.

Die grasdakhuis, wat ’n kenmerkende landmerk was met ’n reuse kruis teen die koppie wat snags verlig was, het jare gelede aan Middelburg sakeman Frikkie Lutzkie behoort.

Die plaas is intussen aan die staat verkoop en ’n gesin het die huis daarop gehuur. Die gesin kon met net die klere aan hul lywe en hul voertuie voor die vlamme uit vlug.
Die man, wat ’n professionele jagter is, se vuurwapens is onder andere ook in die brand beskadig.

Dit is bevestig dat daar ’n saak van brandstigting by die polisie oopgemaak is na die vuur by Bergland.

Een van die mense wat gehelp het om teen die brand te baklei, sê dat hulle ’n voorbrand om die lodge gemaak het, toe dit begin lyk asof die aankomende vuur dit kan bedreig.

“Dit was onmoontlik vir daai lodge om te brand. Nie met die voorbrand wat ons daarom gemaak het nie. Ons was heeltyd by die lodge om seker te maak alles is veilig. Toe ons daar weg ry, toe brand hy skielik,” vertel een boer.

“Daar is mense wat gesien het hoe iemand die lodge aan die brand steek en weghardloop. Nou is die moeilikheid om die polisie te kry om dit te ondersoek,” het ’n ander boer vertel.

• Die gemeenskap het intussen begin om hande te vat om goed vir die gesin wat hul huis verloor het, in te samel. ’n Trustrekening sou teen Maandagmiddag oopgemaak word vir mense om skenkings in te betaal.

 

• ’n Bejaarde egpaar van Machadodorp het oor die naweek ook eiendom verloor toe ’n veldbrand na hul huis versprei het. Die vuur het hul afdak en twee motors verwoes asook ’n skuur met gereedskap. Die gemeenskap het kom help om die brand by mnr. en mev. Douglas Wheeler te kom blus.

Mnr en Mev Wheeler.

 

Mnr. Wheeler is baie sieklik en sal nooit weer in sy lewe kan bekostig om sy eie voertuig te koop nie. Amanda Botha, plaaslike DA raadslid het gevra dat mense wat die egpaar dalk kan help met ’n voertuig kan help, haar kontak by 082 803 3722.

 

 

Lees ook:

Boer wag vir geregtigheid na plaasaanval

VIDEO: Gaan speel die Marimba!

VIDEO: ‘n Middie vyf by Koedoekoppe

VIDEO: Dennesig – van Kleinbegin na spogskool soos min

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button