Die swendelaar wêreldkampioene!
Indien daar ’n Olimpiese Spele vir swendelaars was, het Suid-Afrika met die goue medalje weggestap.
Ondanks waarskuwings op radio, televisie, koerante en webblaaie, word mense daagliks uit miljoene rande gekul.
Die jongste slagoffer is me. Martie Ferreira wat sê sy is verstom hoe vinnig geld uit haar bankrekeninge verdwyn het.
“Die vrou van die ’bank’ wat my gebel het, het gevra dat ek my selnommer en identiteitsnommer bevestig. Sy het my volle name genoem en die volgende oomblik is daar R20 000 uit twee van my rekeninge onttrek.”
Toe sy ’n verklaring by die polisiestasie gaan aflê, is daar vir haar gesê die bedrieër moes iemand gewees het wat in ’n bank werk.
Nadat sy haar bankrekeninge gevries het, het die bedrieërs haar ’n paar dae weer gebel, met die storie dat iemand op haar rekening ’n Takealot transaksie probeer doen.
“Dit was drie dae later, die banke doen nie hulle deel om kliënte te beskerm nie,” het sy gesê.
Die swendelaars speel nie.
Mike Bolhuis, van Specialised Security Services, sê ’n vrou het binne ses maande R25 miljoen verloor in ’n bedrogspul.
Daar is ook berig dat die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid ’n bevel van die Hooggeregshof verkry het om R21.55 miljoen te vries wat verband hou met ’n gesofistikeerde aanlyn bankbedrogspul wat Jormid op Middelburg geteiken het. (Ander berigte sê dit was R16 miljoen).
Tydens die bedrogspul is R21.55 miljoen bedrieglik oorgeplaas vanaf Jormid se rekening.
In Mei het Jormid se finansiële bestuurder, mev. Judy Jordaan, WhatsApp-boodskappe ontvang wat aangedui het dat dit van ABSA Bank afkomstig is, wat gewaarsku het oor vermeende transaksies op die maatskappy se rekening en bevestiging versoek het.
Nadat sy die magtiging van die transaksies geweier het, het sy ’n oproep ontvang van ’n persoon wat beweer het dat hy van ABSA se Bedrogafdeling is, wat haar opdrag gegee het om te help met die kansellasie van die beweerde aktiwiteit en om elektroniese skakels wat na haar selfoon gestuur is, goed te keur.
Terwyl sy nog besig was met die oproep, is sy deur ’n kollega in kennis gestel, dat groot ongemagtigde oordragte reeds vanaf die maatskappy se rekening verwerk is.
Sy het die voorval by ABSA se bedrogafdeling aangemeld en ’n saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Middelburg geopen.
Die saak is op 29 Mei 2026 na die AFU verwys, wat ’n finansiële ondersoek van stapel gestuur en hulp van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) gesoek het.
Na aanleiding van sy ondersoek het die FIC opdragte aan ABSA Bank uitgereik om fondse in nege rekeninge wat vermoedelik die gesteelde geld ontvang het, te vries.
Die AFU het toe die Hooggeregshof op ’n dringende basis genader en ’n bewaring van eiendomsbevel teen die nege rekeninge verkry.
Die bevel verhoed die verkwisting van die fondse, wat gekoppel is aan die beweerde bedrog, hangende verbeurdverklaringsprosedures.
Jormid eienaar, Piet Jordaasn, het nie op navrae reageer nie.
Plaaslike prokureur Theo Pistorius sê sy kantoor hanteer sake van vier kliënte wat met enorme bedrae ingeloop is met bankslenters.
“As ek vir mense kan raad gee, is dit die volgende:
“As die “bank” jou bel of ’n WhatsApp-boodskap stuur – dit is nie die bank nie. Beëindig die oproep dadelik en moet hoegenaamd nie op boodskappe reageer nie. As jy onraad vermoed, kontak self jou bank.
“As jy ‘n slagoffer van so ’n bedrogspul is, is dit belangrik om onmiddellik met jou bank se bedrogafdeling kontak te maak. Die modus operandi van die bedrieërs is om rekeninge te skep, waarheen die gesteelde fondse gekanaliseer kan word. Met vinnige optrede kan die fondse nog bevries word.
“Voor jy op ’n skakel kliek of ’n e-pos oopmaak, dink twee keer. Wees waaksaam, die bedrieërs is uiters vindingryk en met Kunsmatige Intelligensie is dit vir hulle maklik om mense om die bos te lei.”
Bolhuis sê hulle kry honderde klagtes en duisende brokkies inligting.
“Dit is cyber crime, van die grootste misdaad in die wêreld en ook in Suid-Afrika. Dit gebeur meer en meer. Hierdie mense weet hoe om jou aan die lyn te hou. Hulle het al jou inligting en jy word gescam en van alles ontneem.”
Daar is volgens hom verskillende maniere waarop mense uit hulle swaarverdiende geld bedrieg word soos die sogenaamde sweatheart-bedrogspul, mense wat hulle as polisiemanne voordoen, korrupte polisiemanne en dan die swendelaars wat hulle as bankamptenare voordoen.
“Moet glad nie met iemand oor die telefoon kommunikeer oor jou rekeninge nie.”
Bolhuis sê die bedieërs is baie slim, oortuigend en artikuleer op so wyse dat slagoffers hulle glo.
Die swendelaars is mense wat in banke gewerk het of steeds werk, of personeel van selfoonmaatskappye, sê hy.
“Die penny drop en die mense val steeds vir die k*k.”
