News

Storm oor selfmoord – ons antwoord

Die afgelope week is die Middelburg Observer wyd in sosiale media bespreek oor ’n plasing van ene Skye Smit nadat haar pa, mnr. Robbie Robbertson, sy eie lewe geneem het.

Die meeste sosiale media gebruikers is nie bewus waaroor Smit se kritiek gegaan het nie en daarom stel ons graag die feite.

• Twee inwoners het op een dag hulle eie lewe geneem.

• Dit was die voorblad berig in die Dinsdag uitgawe van die Middelburg Observer – sien foto.

• Die koerant se mees ervare joernalis, Daleen Naude, het met die naasbestaandes van Riaan Botha gepraat wat vir haar inligting oor sy selfmoord gegee het. Sy het ook met me. Robbertson gepraat ten aanhore van ander joernaliste wat getuig dat sy die oproep op uiters sensitiewe en menslike wyse hanteer het.

In ’n verklaring sê me. Naude die volgende:

Ek het Maandagoggend me. Cheryl Robbertson gebel nadat ons verneem het van die selfmoord van haar man, Robbie Robertson.

Ek het dadelik my innige simpatie aan haar oorgedra, waarin sy dankie gesê het.

Ek het myself geïdentifiseer as joernalis van die Middelburg Observer en haar gevra vir ’n mooi foto van haar man.

Ek het simpatiek uitgevra oor die aangeleentheid en sy het vir my gesê dat sy net met my sal praat as ek nié in die koerant sê dat haar man selfmoord gepleeg het nie.

My woorde aan haar was, “I am so sorry, I can not promise you that. I can’t lie.” Ek het haar die hele tyd met respek hanteer en aanmekaar simpatiek teenoor haar opgetree.

Nie een oomblik het ek my stem verhef teenoor haar nie. My kollegas in die kantoor kan daaroor getuig.

*Ek het self twee keer in my direkte gesin (my skoonpa en my peetkind) aan selfmoord afgestaan en het die grootste simpatie en empatie met mense wat familielede aan selfmoord afstaan.

Met my skoonpa se selfmoord 20 jaar gelede wou ons ook nie hê dat die koerant ’n storie daaroor moes doen nie, maar later was ek dankbaar, want toe het al die vrae en direkte beskuldigings opgehou.

Met my peetkind, Graham Walsh (18), se selfmood in 2008, het my suster my gevra ek moet self die berig skryf en ek het. Dit was die swaarste berig wat ek ooit moes skryf, want hy was vir my soos ’n eie kind (elke dag in my huis), maar my suster het ook gesê na die berig het almal se vrae opgehou.

*Met mnr. Harry Hettema se selfmoord het die familie ook gesê dat hy ernstig siek was en daarom homself geskiet het. Dit was vir hulle ’n geweldige skok, maar ook gesê dat hy baie swaar gekry het en dat hulle verstaan dat hy dit gedoen het.

Na sy berig het hulle my gekontak en dankie gesê vir die manier waarop ek die berig geskryf het.

*In ’n nou gemeenskap waar skinderstories altyd die wêreld vol is na selfmoorde, het ek in my 30 jaar as joernalis in 99% van die gevalle toe ek daaroor geskryf het, na die tyd ’n dankie van die familie gekry.

Nie net omdat die vrae opgehou het nie, maar omdat ons altyd met ’n simpatieke oor en pen daaroor geskryf het.

Ons het hulle die geleentheid gebied om die dood “sagter te maak” met ’n omgee-berig.

Dit is jammer mense het hulle gewend na skeltaal en vernederende opmerkings na Smit se plasing.

Ons simpatie gaan uit na die Robbertson gesin en ons vertrou dat hulle tog vrede sal vind in hierdie moeilike omstandighede.

Redakteur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button