NewsSport

KYK: Vet karp laat Justin soos ’n miljoenêr voel

20-jarige Justin Taljaard het die Karp Bonanza gewen met ’n 6,610 kg-karp en R220 000 se prysgeld.

’n Jong hengelaar op die boot Pension het Saterdag se Karp Bonanza gewen en met R220 000 se prysgeld weggestap.

’n Wenkombinasie. Die boot Pension en jong Justin Taljaard. FOTO: Verskaf

Justin Taljaard (20), ’n oud-leerling van HTS Middelburg, is ’n jong man met groot drome – van sy eie YouTube-hengelkanaal en ’n loopbaan in die beleggingswêreld tot die droom om eendag die Karp Bonanza te wen.

Een van dié drome het Saterdag waar geword toe hy kort ná 07:00 ’n bielie van ’n karp uit Loskopdam gelok het. Dit was skaars ’n uur nadat die aas die water getref het.

“Ek het soos ’n miljoenêr gevoel. Ek was so dankbaar,” het hy vanoggend opgewonde vertel.

Die karp moes minstens 6 kg weeg om vir die groot prys in aanmerking te kom en het die skaal op 6,610 kg laat trek.

Daarna moes Justin en sy span die hele dag asem ophou om te sien of geen groter karp gevang sou word nie.

Hier staan die manne, die veyterane en die jongeling. Jaco Booysen, skipper Mias Taljaard, Justin en sy pa Piet. Hulle was die bemanning van Pension. FOTO: Verskaf

Diegene wat die jong hengelaar ken, sê hy het ’n hart van goud. Hoewel die prysgeld nog nie in sy bankrekening is nie, het hy reeds besluit om R70 000 met onder andere sy ouers, broer en die boot se skipper, sy oom Mias Taljaard, te deel.

“Hulle het my oor die jare gemotiveer, in goeie en slegte tye, en my gehelp om ’n beter mens te wees. Hulle verdien ’n deel van die prysgeld.”

Vra jy hom waarmee hy die wenkarp gevang het, kom die antwoord met ’n skeut humor: “Met visstok en katrol.”

Hy skryf ook van sy sukses aan sy groot vriend, Andries Botha, toe. Wanneer die twee nie hengel nie, doen hulle allerhande skoonmaak- en onderhoudswerk, van stoepe, ruite en dakke tot kleiner herstelwerk.

Justin se wenvis word intussen deeglik nagevors voordat die prysgeld aan hom oorhandig word. Dit volg nadat ’n hengelaar jare gelede ’n vis in ’n ander dam in ’n net aangehou het tydens ’n groot kompetisie en daarna die kompetisie gewen het.

Karp Bonanza 2026 sal dus onthou word vir die ongewone kombinasie van Pension en jeug wat met die groot prys weggestap het.

Lourens Hattingh was vierde in die Karp Bonanza. FOTO: Facebook/Karp Bonanza
  • Een van die dorp se veteraan-hengelaars, Lourens Hattingh, het vierde geëindig en R10 000 gewen.

KYK DIE VIDEO HIER: https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7693485428573211956

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button