Raymond Papapavlou: 6 jaar later steeds geen antwoorde
Ses jaar ná Raymond Papapavlou se dood bly die ondersoek onopgelos, nadat klagtes teen vyf beskuldigdes teruggetrek is en die polisie steeds na ’n sesde verdagte soek.
Sondag ses jaar gelede is Raymond Papapavlou (28) omstreeks middernag in sy bed op ’n plaas tussen Groblersdal en Stoffberg doodgeskiet. Ses jaar later het nog niemand in verband met sy dood tereg gestaan nie.
Sy ma, Sonja van Middelburg, het gister gesê dit was die eerste keer dat Raymond se sterfdatum op ’n Sondag geval het – dieselfde dag waarop hy vermoor is. Hy was ’n plaasvoorman en is vyf keer in sy bed geskiet.
“Ek het vrede in my hart, want ek weet op die einde van die dag kom hulle wat hom vermoor het nie weg nie. Dit is in God se hande. Ek weet my kind is veilig. My kind was net ’n nommer, maar by God is hy ’n prins en koningskind.”
Fel kritiek
Die moord is aanvanklik as ’n plaasaanval beskou en daar was fel kritiek op die wyse waarop die polisieondersoek hanteer is.
Oud-kolonel Gawie (Sakkie) Louwrens van Bosveld Misdaad Ondersoeke (BMO), ’n privaat nie-winsgewende organisasie wat ernstige en geweldsmisdade ondersoek, het later by die ondersoek betrokke geraak. AO Debbie van Zyl van die Groblersdal-speurdiens het die ondersoek oorgeneem.
Louwrens het later op sosiale media gesê BMO is verheug oor die arrestasie van Simoné Papapavlou ná maande se werk deur die organisasie, Van Zyl en ander rolspelers. Volgens hom sou sy in die Groblersdal-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte wat uit haar man se moord spruit.

Simoné se vriendin, Patricia Ray-Lee Smith, is kort ná die moord in hegtenis geneem en later op borgtog vrygelaat.
Volgens die destydse klagstaat het Smith op 4 Oktober “onwettig en doelbewus saamgesweer met Simoné om óf hulp te verleen óf te bekom, in die uitvoering van ’n oortreding om Raymond onwettig en doelbewus te vermoor.”
Simoné het aan die polisie gesê sy het dié aand op ’n bank in die aangrensende woonkamer aan die slaap geraak en skote op die aanvallers geskiet met ’n vuurwapen wat sy by haar gehad het.
Verskeie ander mense is later in hegtenis geneem. Smith, Simoné, Paulinah Tseka, Calvin Tseka en Phillip Manchidi het almal in verband met Raymond se moord in die hof verskyn.
Klagtes voorlopig teruggetrek
Die saak het twee jaar gelede ’n skokwending geneem toe die moord- en samesweringklagtes voorlopig teen al vyf beskuldigdes teruggetrek is.
In Februarie 2025 het die polisie gesê hulle soek steeds na ’n sesde verdagte en dat die ondersoek voortduur.
Simoné het later in ’n onderhoud met Times Live gesê sy is gearresteer ‘omdat sy lesbies is.’
Nie oud-kolonel Louwrens of AO Van Zyl het op navrae gereageer nie, terwyl terugvoer van die Limpopo-polisie afgewag word.
