Gee jou lewe sonder die belofte van roem of geld
Marisa de Jager (néé Coetzer), een van Suid-Afrika se belowende kunstenaars, is in Duitsland vir 'n kunsuitstalling.
De Jager (23) is vanaf Julie 2015 ‘n inwoner van Groblersdal.
Sy het reg oor die land groot geword, maar sê dat haar vormingsjare in George in die Wes-Kaap was.
Sy het in ‘n huishouding groot geword waar haar waardering vir kuns ‘n groot rol in haar lewe gespeel het. “My ouers het ons altyd bewus gemaak van mooi goed wat mens maklik kan miskyk in die lewe,” sê sy.
De Jager, wat onder die naam MIES skilder, is nie net ‘n gewone kunstenaar nie, aangesien sy nie met ‘n kwas verf nie, maar haar werke optower deur met ‘n kredietkaart te verf. “Ek wou oorspronklik van pallet messe gebruik maak, maar was onseker hoe om dit te gebruik. Ek het sommer iets gesoek wat ‘n soortgelyke effek sal hê wat in en om die huis rondlê – my ma se Clicks Club Card het die ding gedoen,” vertel sy.
Lees ook: Clive Bruce by Rusoord
De Jager vertel dat die naam MIES sy oorsprong het weens ‘n maatjie in Graad 0 wat nie haar naam, “Marisa” kon uitspreek nie. “Sy het my Miesa genoem en toe word ek later MIES.” .
Op skool het De Jager reeds verskeie pryse gewen vir haar kuns. “My kuns onderwyseres het gereeld my kunswerke ingeskryf vir kompetisies soos die Pretoria Young Artist of the Year. Maar tydens my matriek kunsuitstalling het ek my eerste kunswerke aan vreemdelinge verkoop wat dit daar raakgesien het en baie daarvan gehou het,” sê sy.
De Jager het haar skoolloopbaan op Hoërskool Menlopark voltooi en na skool het sy besluit om haar droom na te jaag en ‘n voltydse kunstenaar te word.
Lees ook: Oudleerlinge in Pretoria aangeval en beroof
“Ek het ‘n kans gevat. Ek het gedroom om ‘n lewe te volg wat my sal inspireer soos ek dit leef. In 2013 het ek my tersiêre studies begin en tydens vakansies geverf. My fassinasie en ontsag vir die wêreld wat aan die einde van my verfkwas oopgemaak het, het elke keer meer oorweldigend geword toe ek die verfdoek voel en die verf ruik. Dit was lekker. Dit was nie lank voor ek besluit het om my studies te beëindig en op ‘n avontuur te gaan nie. Dié besluit en die implikasies daarvan het my bang gemaak en uitgedaag, maar dit het my ook hoop gegee. En so het alles begin.”
Demi-Leigh Nel-Peters, ‘n Suid-Afrikaanse model en skoonheidskompetisie-titelhouer, wat gekroon is as Mej. Heelal 2017, het ook vir De Jager gevra om ‘n skildery van haar te maak. Nel-Peters het dié kunswerk op Instagram gedeel wat baie reaksie ontlok het.
De Jager sê dat sy dit verkies om mense te verf omdat mense haar boei en fassineer. “Ek is mal oor mense – nog meer as oor kuns. Ek dink daar lê in mense vasgevang genoeg inspirasie om engie kunsvorm te dryf. Elkeen met ‘n eie verlede, eie storie op hulle gesigte geskryf. Almal wat ek verf het stories en leefoomblikke wat ek graag sal vertel. Ons land bars uit sy nate van pragtige gesigte en plekke, en ek kan my nie voorstel dat ‘n loopbaan meer opwindend is as die geheuehouer van hierdie nie.”
Lees ook: Saam geswoeg – saam gesterf
De Jager het reeds ‘n aantal suksesvolle solo-uitstallings in Suid-Afrika gehad en haar kunswerke is in verskeie kunsgallerye in Suid-Afrika beskikbaar.
De Jager se kunswerke word tans in Grootbos in die Wes Kaap en in Showroom in Pretoria op ‘n permanente basis uitgestal. Haar kuns is ook by meeste van die feeste te siene, soos Decorex, KKNK, Oesfees en Vryfees.
De Jager is deur ‘n die kunskenner en -liefhebber Andreas Bernard van Osnabrück genooi nadat hy haar kunswerke by ‘n uitstalling in Grootbos by Gansbaai gesien het.
Sy is tans in Duitsland vir dié uitstalling by die Romantik Hotel Walhalla. Gedurende die openingsaand op 24 September, is 20 van haar kunswerke uitgestal, waarvan daar drie dieselfde aand verkoop is.
Lees ook: Selfmoord: Daar is hulp!
“Ek is oorweldig en ongelooflik nederig deur die ondersteuning wat ek in Duitsland beleef, ‘n plaaslike koerant het met my ‘n onderhoud gevoer en ek kan nie die reaksie glo wat my kunswerke kry nie,” sê sy.
Hierdie uitstalling sal dan ook tot die einde van die jaar in Osnabrück in Duitsland te sien wees.
Sy laat die volgende woorde aan kunstenaars: “Ek dink of dit nou kuns is of nie, as mens bereid is om jou lewe vir iets te gee sonder die belofte dat dit vir jou roem of geld gaan inhou, dan is dit ‘n goeie belegging. As iets jou hart aangryp kan jy dit nie deel sonder om stukkies van jouself te deel nie, en mense vind aanklank daarby – by die outentieke uitnodiging om menswees saam te ontdek.”
Lees ook:
Dorp neem afskeid van geliefde polisievrou
Ouma is lus en vaar die strate in
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
