News

Boer glo Hoër Hand het hom en dogter tydens aanval beskerm

Die bejaarde boer wat Sondag deur drie rowers met pangas op sy plaas aangeval is, glo ’n Hoër Hand het hom en sy dogter, Christa (52), beskerm.

Hy is van die kerk se kollektegeld, selfone en juwele beroof.

“Hulle het vir my gesê: ‘jy is ’n ou man, hoekom veg jy so?’ maar ek het vir lewe en dood geveg,” vertel mnr. Tom Markram (83) van die gebeure op sy plaas, Polfontein (Loskopdampad).

Hulle was vroegoggend na die Kranspoort Kerk, waar mnr. Markram die kollektegeld opgeneem het.

Omstreeks 09:45 was hulle terug op die plaas en is Christa by die huis in. Mnr. Markram het die bakkie onder die afdak gaan parkeer.

Lees ook: UPDATE: Loskop farm attack victims discharged from hospital

“Ek het nog met die sleutel in my hand gestaan, toe hulle op my afstorm van waar hulle agter die muur weggekruip het. Die een het my dadelik met die plat kant van die panga oor my kop geslaan.”

Die pangaman het nog ’n keer na mnr. Markram gekap, waarop hy met sy regterhand gekeer en sy hand beseer is.

’n Ander rower het hom beetgekry, sy hemp van hom afgeskeur en ’n tou om sy regterarm vasgemaak en hom begin rondpluk.

Mnr. Markram sê hy het probeer terugbaklei, maar hulle het hom kort-kort van balans af gepluk en hom weer met die panga gekap.

Die groep, wat almal klapmusse en handskoene gedra het, het aanmekaar gevra waar is die kluis en gesê hulle wil “die 9mm” en geld hê. Mnr. Markram het probeer verduidelik dat hy nie wapens het nie.

Lees ook: BREAKING NEWS: Another farm attack – three suspects still on the loose

Christa is ook in die huis oorval en met die platkant van die panga oor die kop en skouers geslaan. Sy is na haar kamer geboender, waar hulle haar hande en voete met nylontou vasgemaak het.

Mnr. Markram is gedwing om vir die aanvallers die kluis oop te maak en hulle was woedend toe hulle nie kontant of wapens in die kluis kry nie. Al wat hulle kon vind was ’n windpistool (wat soos ’n 9mm pistool lyk).

Een van hulle het sy sakke deursoek en die kollektegeld, ’n bedrag van R1 720, gekry.

Hulle het net ’n paar waardevolle juwele uitgesoek en die res neergesmyt.

Lees ook: Plaasaanval slagoffer ‘huil bloed’

Daarna het hulle mnr. Markram se hande (agter sy rug) en voete vasgemaak en hom vasgebind aan sy Gymtrim-oefenapparaat in sy kamer.

Mnr. Markram sê hy het die hele tyd wat hulle hom rondgeruk het met die tou, sy hand begin loswoel en kort nadat hulle weg is, het hy sy een hand uitgekry en homself bevry.

Nadat hy ook sy dogter bevry en na haar welstand verneem het, het hy per radio vir hulp geroep.

Mnr. Markram het steke aan sy hand, oor en kop gekry waar hy met die panga gekap is. Hy het ook ’n wond op sy neus.

Beide pa en dogter is dieselfde dag ontslaan.

Teen druktyd was die rowers nog op vrye voet.

 

Lees ook:

Gee jou lewe sonder die belofte van roem of geld

Clive Bruce by Rusoord

Oudleerlinge in Pretoria aangeval en beroof

Saam geswoeg – saam gesterf

 

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

Back to top button