News

Eksklusiewe onderhoud: Man van vrou wat in Mosambiek vermoor is vertel

'n Oud Middelburger, wat vir die laaste agt jaar saam met haar man in Mosambiek gewoon het, is wreed vermoor deur haar man se sakevennoot en ’n voormalige werker.

Petro Prinsloo (50) is op Donderdag, 27 September, dood in haar huis aangetref in Matola, ’n voorstad van Maputo. Haar huishulp van die afgelope agt jaar, Mathilda, het haar liggaam die oggend in die kombuis gekry.

Mev. Prinsloo moes net na 07:00 en voor 07:30 vermoor gewees het omdat sy om 06:30 met haar susterskind en 07:00 met haar eie seun op die foon gepraat. Sy was besig om by die kombuistafel te eet toe sy deur haar moordenaar oorval en haar kop oopgekloof is teen ‘n trappie wat na die slaapkamer lei.

Kort na haar dood is Aida Mahomade, mev. Prinsloo se man Faan se sakevennoot, en Alsino (van onbekend) vir haar moord gearresteer. Beide het dieselfde dag bekentenisse by die polisie afgelê. Mnr. Alsino het vier jaar gelede vir mnr. Prinsloo gewerk en is glo R25 000 beloof vir die moord. Me. Mahomade het saam met mnr. Prinsloo aandele besit in die kompleks waar hulle gewoon het.

Me. Mahomade het in dieselfde kompleks gewoon as die Prinsloo egpaar. Die kompleks het sekuriteitskameras by die hek, sowel as om die Prinsloo’s se huis.

Aida Mahomade het in ‘n onderhoud met ‘n Mosambiekse TV kanaal erken dat sy die moord van Me Prinsloo gereel het.

 

Mnr. Prinsloo vertel dat videomateriaal wys hoe hy om 06:30 die huis verlaat werk toe. Me. Mahomade stuur haar huishulp om brood te gaan koop en sy loop dan na die hoofhek en sit die krag af, wat die kameras buitewerking stel. Sy het daarna na bewering vir mnr. Alsino die hek oopgemaak, sodat hy mev. Prinsloo kon vermoor. Hulle het aanvanklik beplan om haar in die swembad te verdrink, maar dinge het skeef geloop.

Mev. Prinsloo se liggaam is na haar moord vermoedelik “geherrangskik” by die kombuisdeur en die toneel is gemanipuleer, onder andere deur sommige van die bloed skoon te maak.

Nadat haar huishulp op haar afgekom het, het sy na me. Mahomade gehardloop vir hulp.

Mnr. Prinsloo sê dat hy sy bestuurder huistoe gestuur het om gereedskap te gaan oplaai. Die bestuurder het op die toneel afgekom en mnr. Prinsloo gebel wat hom na die toneel gehaas het.

Lees ook: South African woman murdered in Mozambique – media claims of Husband’s arrest false 

Hy het die polisie gehelp om die inligting van die kameras af te kry. Die polisie het ook beslag gelê op almal se fone en die toneel gefynkam vir leidrade. Die twee moordverdagtes is kort daarna gearresteer.

In haar oorspronklike verklaring vertel me. Mahomade hoe sy vir bykans twee maande met mnr. Alsino gepraat het oor die moord. Sy het haar huishulp se foon gebruik daarvoor.

In ‘n skokwending het me. Mahomade die dag na haar arrestasie en bekentenis ‘n Mosambiekse televisiekanaal na die gevangenis laat kom en op televisie erken dat sy die moord op mev. Prinsloo gereël het. Sy het egter haar oorspronklike storie verander voor die kameras, nadat sy na bewering regshulp ingewin het.

Me. Mahomade het aangevoer dat sy en mnr. Prinsloo ‘n buite-egtelike verhouding gehad het. Sy het beweer dat sy die moord beplan het omdat mnr. Prinsloo hul verhouding wou beëindig, nadat mev. Prinsloo hom met egskeiding gedreig het.

Lees ook: Spiesgooi kampioen vermoor – medaljes opgespoor

Mnr. Prinsloo sê dat dit absolute bog is.

“Die aanslag was nie op my vrou nie, die aanslag was op my. Hulle wou dit laat lyk asof ek my vrou vermoor het,” sê mnr. Prinsloo. Hy sê dat sy vennoot die hele besigheid sou kon oorneem as hy in die tronk was.

“As buitelander sou ek 50 jaar tronkstraf gekry het vir moord. Dan was die hele besigheid hare.”

Sy het ook glo twee jaar vantevore ‘n klag by die polisie gaan lê en beweer dat mnr. Prinsloo ‘n vuurwapen op haar gerig het. Sy het aan die polisie vertel dat sy en mnr. Prinsloo getroud is en saam woon.

‘n Skermgreep van Alsino waar hy bieg oor die moord van Me. Prinsloo in ‘n onderhoud met ‘n Mosambiekse TV Kanaal.

Mnr. Prinsloo sê dat die polisie die klagtes as vals afgemaak het nadat hulle met die bure en werknemers onderhoude gevoer het.

Die nuutste aantygings laat mnr. Prinsloo, wat sukkel om sy vrou se dood te verwerk, met ‘n bitter smaak in die mond. ‘n Bewering dat mnr. Prinsloo op die eiland Santa Maria was tydens die moord, is onwaar.

Lees ook: Boere: Hier die regering en misdadigers se teiken – elders gekoester

“Daar is twee vrae wat mense hulself moet afvra. Wat sou ek baat deur my vrou se dood? Want alles behoort in elk geval aan my. Watter voordeel sou my vennoot uit my vrou se dood getrek het? Sy was gierig en sy wou die besigheid vir haarself gehad het. Sy het nou alles wat sy gehad het verloor, en nou probeer sy my saam met haar aftrek. Die waarheid sal seëvier.”

Hy sê dat die polisie hom nooit as ‘n persoon van belang in die ondersoek beskou het nie en dat hy nooit gevra is om sy paspoort in te handig nie, omdat die bewyse van die begin af duidelik gewys het wie skuldig is.

Mev. Prinsloo se sussie, Elna Lewis, het haar as ‘n “klein fyn mensie” beskryf wat graag na ander omgesien het en lief daarvoor was om haar geliefdes te bederf. Sy glo ook dat haar swaer nie betrokke was by haar suster se moord nie.

Lees ook: Sagte reus na moord begrawe

“Ons was baie na aan mekaar en het gereeld gepraat. As daar probleme in hul huwelik was, sou ek geweet het. Sy was vir my dogter soos ‘n tweede ma. Hulle het die oggend voor haar moord gepraat. As daar probleme was sou sy vir my of my dogter daarvan gesê het. My suster en Faan was gelukkig getroud voor sy dood is,” het mev. Lewis gesê.

Mnr. Prinsloo sê dat sy vrou “mal was” oor Mosambiek en nooit wou terugkom Suid-Afrika toe nie.

Hy sê dat hy na sy vrou se verassing daarheen sal terugkeer. Hy besit steeds ‘n huis in Kranspoort.

Mev. Prinsloo se roudiens is verlede Maandag uit die Hervormde Kerk Sentraal in Middelburg gehou.

Sy laat haar man, seuns Morne en Ernest, hul gades en twee kleinkinders, sowel as twee susters, ‘n broer en haar ma agter.

 

Lees ook:

Dorp neem afskeid van geliefde polisievrou

Kanonkop matrieks groet

Ouma is lus en vaar die strate in

VIDEO: Karien is pure goud

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

Back to top button