News

‘God is goed, God is groot’ sê man na ‘It’s Time’

“Al wat ek kan sê is, God is groot, God is goed en Hy is waarlik net ’n God van liefde,” het mnr. Wynand Louw Maandagoggend gesê. Hy was ’n vrywilliger by die “It’s Time” gebedsbyeenkoms by die Rhino Park vliegveld.

Reeds uit die staanspoor van hierdie dag, het wonderwerke begin gebeur.

Hy vertel hoe daar later aan hom genoem is, dat daar ’n probleem was met een van die ratte van ’n bus wat mense na die byeenkoms moes vervoer.

“’n Vrou met die naam Marie het opgestaan, die busdrywer aan die arm gevat, die rat gesalf en gebid. Daardie bus het na die byeenkoms toe en terug gery.”
Mnr. Louw sê dit “was net die vyand wat op die laaste probeer het om mense terug te hou, maar deur Sy genade was een persoon gehoorsaam.”

By die byeenkoms self het hy “’n sagte gees” ervaar.

Mnr. Louw was een van die mense wat die parkering beman het van onder andere die N4 hoofweg af deur voertuie wat van vier rigtings af gekom het, te wys waarheen om te gaan en mense wat nie self kon loop nie in bussies te laai en by punte te gaan aflaai.

Angus Buchan en sy vrou, Jill, Saterdag op die verhoog afgeneem.

“Dit was eintlik ’n onbegonne taak gewees. Ek sê vandag vir jou en ek glo die organiseerders sal saamstem, ons kon dit nie van ’n menselike oogpunt af kon gedoen het nie. Ons moes eintlik gesukkel het, of dit moes nie uitgewerk het nie. Die Here het gekom, Sy hand op daardie plek neergesit en die byeenkoms het perfek geloop.”

Hy onthou ook hoe Andy, Angus Buchan se seun, nie in tente by die byeenkoms self was nie, maar rondgery het tussen die vrywilligers om te kyk of almal reg is. Hy het ook mense gehelp om by hul voertuie uit te kom.

Mnr. Louw sê van Sondag af word hulle oorval met bedankings deur middel van WhatsApps, sms’e en selfs op Facebook deur mense wat net aanhou dankie sê vir die werk van die organiseerders en vrywilligers.

Lees ook: It’s Time: Nog tyd vir busry

Hy meld dat die verkeer vlot gevloei het. Met die hoeveelheid mense wat daar was, moes dit ten minste tussen sewe en agt ure geneem het om uit die perseel te kom.

“Vandat die byeenkoms verby is totdat hulle uit is, het net twee ure geneem. Twee ure om ’n paar honderd duisend karre by ’n byeenkoms uit te kry is nog nooit gesien nie. En dis wanneer die Here se hand opsigtelik is.”

Hy vertel hoe van die vrywilligers by die parkering rooi onder die stof was van al die beweging van die voertuie en dat dit ook geweldig warm was, maar dat hulle net steeds bly glimlag en die pad aangewys het.

“Dis wat die Here wil hê, Hy wil hê dat die mense moet sien daar is mense met ’n bereidwillige hart, mense wat opoffer om die hele dag in die son te staan, net om vir ander mense dit te vergemaklik om by die byeenkoms uit te kom om in eenheid saam te staan en voor God te bid. Hulle het nog steeds blydskap daarin.”

Hy onthou hoe ’n man na hulle toe gekom en vir hulle gesê het dat hy gesien het hoe mense in eenheid ’n byeekoms kan organiseer. Hy kon sien dat niemand alleen ons land kan hanteer nie, maar dat almal mekaar nodig het om in eenheid saam te werk.

’n Paar van die plaaslike vrywilligers wat gehelp het by die “It’s Time” byeenkoms. Voor: Albert du Plessis, Wynand Louw, Deon van Tonder. Agter: Nicky Grobler, Ashley Esquino, Werner Grobler en Koos Mouton.

“As dit net een persoon is uit miljoene mense, wat hier gaan uitstap en ’n verskil gaan maak in Suid-Afrika, dan is dit wat God wou gehad het. Dit gaan nie oor die kwantiteit nie, dit gaan oor bereidwillige harte, dit gaan oor God wat harte wil kom aanraak, en dinge wil verander. Om ons land te wil draai om in eenheid te wees.”

Wat hom verder opgeval het, is dat elke vrywilliger daar gebly het totdat die hele geleentheid verby en almal weg is, voordat hulle self opgepak en saam terug gery het.
“Al die mense het nie één lekkergoedpapiertjie daar gelos nie. Soos hulle ingekom het, so het hulle dit agtergelaat.”

Mnr. Louw sê hy glo mense sal sien “dat wanneer God ons roep en ons is gehoorsaam, dat dit tot eer van Sy naam perfek sal loop. Daar sal nie ’n ding uit plek uit wees nie.”
Hy sê dit is onmoontlik dat ’n mens alleen hierdie byeenkoms suksesvol kon laat verloop het.
“Dis net God se hand wat dit kon gedoen het.”

Lees ook: It’s Time… Onthou die toiletpapier

Hy het genoem van kamerdarerie tussen vreemdes en hoe vriendskapsbande gesmee is.
“Dit is God se Vaderhart. Mense was nie net daar om Hom te ontmoet nie, maar ook om mense te ontmoet, om ’n eenheid te vorm en nuwe bande te bou.”

•Mnr. Louw onthou spesifiek die boodskap wat Angus op ’n openbare front aan Cyril Ramaphosa uitgestuur het. Alhoewel hy bevestig het dat hy daar sal wees, het hy nie opgedaag nie.
Angus het het gesê dat mnr. Ramaphose hom nie moet ooplaat vir allerlei stemmetjies nie, want dan gaan hy faal. “Maar as jy God se woord vat in die parlement in en sê: ‘so sê die Here’, sál jy ons president wees en hierdie land suksesvol regeer.”

•Mnr. Louw het almal bedank wat die dag bygewoon het, asook dankie gesê aan dié wat nie daar was nie, maar steeds vir hulle gebid het en donasies gegee het.
“Dis mense wat vrugbare saad in die grond gegooi het. Die vrug wat daaruit gedra gaan word sal soet wees en dit sal verewig wees.”

•Hy daag elke persoon in Middelburg en ons land uit om uit te reik na elke ander ras en vir hulle te sê om saam te bid vir eenheid in ons land.”

 

Lees ook:

Dorp neem afskeid van geliefde polisievrou

Kanonkop matrieks groet

Ouma is lus en vaar die strate in

VIDEO: Karien is pure goud

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button