News

Rower koop brood met roofgeld

Kort nadat ’n werknemer van die Dierebeskermingsvereniging aangehou is met ’n mes vir R12 en ’n selfoon, is die booswig vasgetrek waar hy ’n brood gekoop het.

Seage Msiza, wat al meer as 30 jaar by die Middelburg Dierebeskermingsvereniging werk, is Dinsdagaand omstreeks 19:00 by die buitehokke oorval.

Hy het gehoor daar is honde in die buitehokke en na buite gekyk of alles reg is. Hulle gaan nie gewoonlik in die aande uit as die diere in die hokke gesit word nie.
Hy het egter gemerk dat daar twee groot honde in die hokke se gangetjie ingedruk is en nie in die hokke self nie. Dit beteken dat niemand in die nag nóg honde sou kon invat nie.

Mnr. Msiza het besluit om die honde maar in te bring, sodat dit veilig kon wees vir ander mense om diere in te bring. Voor hy egter nog by die honde kon uitkom, het ’n rower vanuit die donker op hom toegesak.

Hy het ’n mes teen mnr. Msiza se bors gedruk en vir hom gesê dat hy hom gaan doodmaak, hy moet alles gee wat hy het.

Die mes waarmee mnr. Msiza aangehou is.

Mnr. Msiza het net R12 in sy sak gehad, asook die DBV se bystandselfoon en dit aan die man oorhandig, wat dit gegryp en gevlug het.
Hy is na binne waar hy die paniekknoppie gedruk en senior inspekteur Petro Oberholzer (bestuurder, Middelburg DBV) geroep het.

Sy het al die noodgroepe soos Middelburg 911 en die Middelburg Gemeenskapspolisiëringsforum in kennis gestel en sekuriteitsfirmas, soos Bidvest, het ook hulp aangebied. Mnr. Bernard van der Berg (voorsitter, DBV komitee) het ’n ander vergadering kortgeknip om met die soektog te help.

Lees ook: ‘Oerwoud’ op erf is wegkruipplek vir inbrekers

Die area is gefynkam, waarna ’n verdagte, wat die beskrywing gepas het, buite die OK Grocer opgemerk is met ’n brood en selfoon in sy hand.
Die selfoon is dadelik geïen as die een wat by mnr. Msiza gesteel is en op die toneel is gesê dat die rower met die R12 ’n brood gaan koop het.

Met die polisie se aankoms is die verdagte deursoek en is daar ook koperkrane en slotte in sy besit gevind.

•’n Paar inwoners van Blackmorestraat het die afgelope twee weke by die koerant gekla dat hul slotte van hul hekke af gesteel is.

•Die polisie het teen druktyd nog nie die verdagte se naam bekend gemaak nie.

 

 

 

 

Lees ook:

 

Nuwe tierbaba by Mbidi

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Annica van Staden slagoffers verloor duisende

VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

Back to top button