Oom Kosie se flenteronderbroek vertel ’n luiperdstorie
Legendariese luiperdvanger se rekord verpletter deur Deon Cornelius wat op pad is na sy honderdtal.
Toe staan Oom Kosie daar met sy flenteronderbroek.
Dit is een van daardie stories wat jy net op die platteland hoor. ’n Storie wat weer opgediep kan word nadat ’n luiperd Woensdag, 30 September, by De Voetpadkloof afgeneem is – nie ver van waar Oom Kosie geboer het nie.
Dit is die storie van Oom Kosie, die luiperd en die onderbroek.
Oom Kosie Grobler was die Middelburg-omgewing se bobaas-luiperdvanger.
Hy het een oggend opgewonde gebel en, soos ’n hengelaar wat ’n groot vis uitgetrek het, gespog: “Ek het nog een gevang!”

Dit was luiperd nommer 13.
Ek is saam met Oom Kosie, soos hy bekend was, die bosse in op sy plaas onder die Kranspoortpas. Hy het sy eie vanghok gebou, wat die een na die ander luiperd geflous het.
Nadat ons tussen die doringbome deurgeworstel het, het ons op ’n struktuur afgekom wat met takke toegepak was.

Ek het versigtig eenkant gestaan terwyl Oom Kosie die takke een vir een begin afhaal het.
Die volgende oomblik was daar ’n grom.
’n Grom wat jou ruggraat laat kielie van jou stuitjie tot jou kroontjie.
Die krag van die dier het my laat sidder. Die flitsende oë sou vrees in die dapperste kryger laat posvat.
Nadat foto’s van Oom Kosie by die hok geneem is, is ons terug na sy plaashuis.
En dit is hier waar die onderbroekstorie sy beslag gekry het.

Ek het hom uitgevra oor sy vorige vangste.
Toe vertel hy: “Jong, daar was een luiperd wat op ’n dokter se plaas vrygelaat is.”
’n Groot groep toeskouers het die oomblik gadegeslaan.
Die luiperd het uit sy hok gekom en met spoed die vlakte ingevaar, maar toe skielik vasgesteek.
“Hy het omgedraai en reguit op my afgepeil. Voordat ek kon wegkom, het die luiperd my gegryp en die klere van my lyf afgeskeur. My onderbroek was flenters.”
Toe seg Oom Kosie: “Ek het nou nog daardie onderbroek!”
En daar poseer hy trots met sy flenteronderbroek vir ’n foto.
*Deesdae is Deon Cornelius van die wildsplaas Ubhetyan-O-Africa die omgewing se bobaas-luiperdvanger. Sedert 2009 het hy nie minder nie as 93 luiperds op sy kerfstok.
