’n Dorp waar jy tot die dood gelukkig is
Middelburg het teen 12 Desember 2019 ’n nuwe skool - ’n rare verskynsel in Suid-Afrika!
Shirdo Tradings, wat die skool in Aerorand bou, is vol vertroue dat die eerste leerlinge in 2020 deur die hekke sal stap.
Dit is ’n laerskool wat reeds bekend staan as Aerorand Primary School.
Middelburg was ’n voorloper in Suid-Afrika toe voorafbetaalde elektrisiteitsmeters in Mhluzi geïnstalleer is toe dienslewering boikotte die land op sy knieë gedwing het.
Een van die heel eerstes met ’n veelrassige oorgangsraad.
Een van die eerstes met ’n “swart” burgemeester in Ben Mokoena wat later soos een van sy opvolgers, Mike Masina, van die gewildste burgemeesters ooit op die dorp geword het.
Redakteurs by ander gemeenskapskoerante was verstom wanneer hulle hoor burgemeester Masina skryf elke week ’n rubriek vir die Middelburg Observer. “Hoe is dit moontlik? Daar is mos konfrontasie tussen die stadsraad en koerant?”
Vandag nog het die koerant en munisipale bestuurder, mnr. Bheki Khenisa, ’n uitstekende werksverhouding.
Dit is een van min dorpe waar daar ’n “slaggat span” is waar slaggate wat aangemeld word binne 24 uur herstel word. Inwoners is so beïndruk met die “P-team”, Pothole Team, dat hulle gereeld beloon word met hamburgers en Coke.
Lees ook: Middelburg kykNET se Dorp van die Jaar
Gras word gesny, parke onderhou en inwoners van ander dorpe kom begrawe hulle geliefdes hier omdat die begraafplaas ’n lushof is.
Sowat R29 miljoen word tans bestee om ou elektriese kabels te vervang om kragonderbrekings uit te skakel.
Stukkende straatligte word nog vervang.
Dit was nie ’n verrassing nie toe Middelburg in 2015 aangewys is as Dorp van die Jaar.
Toe kom 2019 en daar is woede omdat leerlinge nie in die tradisionele Mode C skole kon plek kry nie.
Ouers het by die Departement Onderwys gaan betoog en na skole opgeruk waar daar voor toe hekke getoi-toi is.
Maar op Middelburg is daar oplossings vir elke probleem.
Skoolhoofde van Middelburg Primary School, Laerskool Middelburg, Laerskool C.R. Swart, Laerskool Kanonkop en Laerskool Dennesig het almal saamgespan. Daar is klaskamers by die Middelburg Care Village ingerig en Middelburg Primary School se skoolhoof, mnr. Renier Loubser en sy personeel, het verantwoordelikheid vir die leerlinge geneem.
Soos in die goeie feëverhaal was almal hierna gelukkig.
Intussen het die provinsiale regering na die partytjie toe gekom en bouwerk vorder fluks vir ’n nuwe skool waar burgemeester, Bagudi Tolo, die week ’n baksteen gaan lê het.
Bouwerk aan die skool sal sowat R55 miljoen beloop met 24 klaskamers, ’n biblioteek en sportgronde.
•Intussen word ’n nuwe groot provinsiale hospitaal ook op die dorp gebou.
•En as daar ander dorpe is wat wil weet hoe om probleme op te los: Kom leer op Middelburg.
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
