NIE VIR SENSITIEWE KYKERS: Net daardie pleitende ‘Help my’ in haar oë
Vuil beddegoed en hul familielid wat daagliks pleit dat hulle haar moet help, sal ’n familie altyd bybly.
Foto’s wat www.mobserver.co.za bekom het wys ook wonde waarin etter duidelik sigbaar is.
Hilda Grobler (43) het byna daagliks by haar familie gepleit dat hulle met die Middelburg Hospitaal se personeel moet praat.
“Ons het baie keer mooi gaan praat. Maar ons wou nie dinge vir Hilda moeiliker maak nie,” vertel haar skoonsuster, Zelda Grobler.
“Die laaste drie dae was daar net daardie pleitende ‘Help my’ in haar oë, maar sy kon nie praat nie. Hilda het ’n verskriklike lyding gehad. Sy het dit nie verdien nie.”
Me. Grobler is Saterdag in die Middelburg Hospitaal, nadat sy ’n paar weke gelede met kanker gediagnoseer is, oorlede.

In Februarie vanjaar het me. Grobler se dogter, Nadia, haar tot www.mobserver.co.za gewend, toe die sig uit wonde na operasies uit haar ma se wonde geloop het.
Ander familielede het ook gevra dat ons “iets moet doen”, omdat sy so agteruit gegaan het.
Me. Grobler het in Desember twee breukoperasies in die Witbank Hospitaal ondergaan en is teruggeplaas na die Middelburg Hospitaal, waar sy sedertdien as pasiënt kronies in die hospitaal was.
Lees ook: Horror ordeal at hospital – ‘They tied me to a bed!’
Kort nadat sy teruggekeer het na die Middelburg Hospitaal, het hulle die foto’s van die wond geneem.
’n Joernalis het dadelik mnr. Pat Mazibuku (Hoof Uitvoerende Beampte van die Hospitaal), asook die Departement van Gesondheid en die Menseregtekommissie gekontak oor die familie se bekommernis.
Die foto’s is ook aangestuur vir die Gesondheidsdepartement en die Menseregtekommissie.
Die Menseregtekommissie het dadelik antwoorde van die Middelburg Hospitaal gevra.

Kort daarna het mnr. Mazibuku ’n joernalis met sy persoonlike selfoon uit me. Grobler se kamer gebel en gesê dat die joernalis met me. Grobler moet praat.
Hy het onder meer gesê dat die klagtes wat daar was “uitgesorteer is” en dat me. Grobler gelukkig is met die behandeling wat sy ontvang.
Me. Grobler het, met mnr. Mazibuku by haar bed, gepleit dat ons nie ’n berig doen nie.
Die familie is egter oortuig dat sy “te bang was.”
Lees ook: Woman fears for domestic worker’s life after botched hysterectomy
Hulle het hierdie week ’n foto verskaf wat vroeër vanjaar geneem is waar die wond duidelik ontsteek is.
“Ek het een oggend vinnig die foto geneem, want ek was bang hulle sien my en dan haal hulle dit dalk op Hilda uit. Ek het nie die personeel daaroor uitgevra nie, juis om Hilda te beskerm.”
Hulle onthou hoe sy op ’n stadium in en uit die hospitaal was. “Sy was seker in totaal so 10 dae tuis, die res van die tyd was sy in die hospitaal, omdat sy so siek was.”
Me. Grobler se wonde het later begin heel, maar dit was duidelik dat sy die hele tyd ongemaklik was.
Talle kere was die beddegoed vuil en as hulle me. Grobler daaroor uitgevra het, het sy gesê die personeel wou haar nie help nie.

As hulle versigtig, sonder om aggressief te klink, die personeel gevra het daaroor, het hulle gesê dat me. Grobler nie wou hê dat hulle haar help om die dreineringsak skoon te maak of haar te help nie.
“As ons egter alleen by haar was, het sy ons omtrent nie gegroet nie, so ontsteld was sy. Sy het soms gehuil en net gevra dat ons moet help. Ons wou nie baklei met personeel nie, want ons wou nie sake vir haar slegter maak nie.”
Haar toestand het geweldig versleg en teen einde April is die familie in kennis gestel dat sy kanker het.

•Die familie het gesê dat hulle voor 12:00 Donderdag (16 Mei) R9 600 moet oorbetaal vir die verassingskostes.
“Ons het dit eenvoudig nie,” is hartseer gesê.
•As die fondse betyds geïn word, word ’n roudiens Vrydag om 11:00 uit die Arise Ministries gemeente gehou.
•Die BOYF (Back On Your Feet) nie-winsgewende organisasie, onder leiding van me. Tess Riekert, het intussen ’n noodfonds begin om die familie te probeer help.
Me. Riekert het gemeld dat hulle teen Woensdag net R700 geïn het.
“As ons nie voor more 12:00 die gelde inbetaal nie, word die bedrag méér, aangesien die liggaam dan langer daar lê.”
•Persone wat vir die fonds wil bydra, kan me. Riekert bel by 083 270 0026.
•Die foto van me. Grobler se wond is na ’n dokter (wie anoniem gehou word) gestuur en uitgevra of dit reg is dat daar ’n “papier” by die wond uitsteek en oor die wond self.
Die dokter het dit duidelik gestel dat dit “nié ’n stuk papier is wat by die wond uitsteek nie.”
In mediese terme word dit ’n “corrugated drain” genoem.
Hy het gemeld dat dit in die wond gesit is, “omdat daar seker ’n perforasie of abses was wat hulle wou dreineer.”
Alhoewel die wond sleg lyk, sê hy dat dit kan gebeur as die buik binne vuil was en dat sepsis ingetree het as ’n algemene komplikasie van so ’n groot operasie.
“Dit lyk ook of hulle ’n kolostomie sakkie op het, wat beteken dat hulle die derm na buite gebring het om die binnekant te help herstel. So dit lyk of hulle alles reg gedoen het.”
Hy het gemeld dat dit moeilik is om ’n opinie te lug deur net na ’n foto te kyk sonder die geskiedenis en hoekom hulle geopereer het en hoe die pasiënt se toestand was voor die operasie.
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
