News

Dodelike Temik eis mens en dier

Die Middelburg Dierebeskermingsvereniging het vanoggend met ’n hond wat in ’n erf gekry is na die veearts gejaag, maar kort na aankoms het die dier gevrek.

Senior inspekteur Petro Oberholzer (Middelburg DBV) sê hulle het ’n oproep gekry van inwoners in Jeppestraat dat daar ’n hond (wat nie aan hulle behoort nie) in hul erf lê.

Hulle het soontoe gejaag en ’n Chinese Keeshond (Chow) reun voor in die erf gekry. Die dier het nog geleef en het hulle met hom na die Kanonkop Dierekliniek gejaag.
Kort na aankoms het die dier egter gevrek.

Sy het gesê dat alle aanduidings is dat die dier met die gevreesde Temik-gif, ook “Two Step” genoem, vergiftig is.

•Alhoewel dié gif onwettig is, is dit vrylik op straat beskikbaar.
www.mobserver.co.za het by geleentheid ’n kontak ingestuur na ’n taxistaanplek wat binne twee minute vir slegs R20 ’n klein pakkie van dié korrelrige gif kon koop.

Letterlik honderde honde is die afgelope vyf jaar al met die gevreesde Temikgif vergiftig. Die boewe meng die korrelrige gif gewoonlik met vleis.

•Kort nadat die gif destyds so maklik in die hande gekry is, is daar navraag gedoen by dr. Gerhard Verdoorn (Direkteur van die Griffon Gifsentrum en konsultant vir die Landbou Chemiese Industrie en AVCSA – Association of Vetenerian and Crops SA) oor hoe giftig Temik is.

Hy het gesê dat ’n teelepel vol van die korrelrige gif ’n renoster kan doodmaak, maar net ’n tiende daarvan kan ’n man van 80kg se dood veroorsaak.

Dr. Verdoorn het hom skerp uitgespreek oor dié vergiftiging wat al vir jare in Suid-Afrika voorkom. “Daar vrek daagliks tot ’n duisend honde in Suid-Afrika en sowat 100 mense gaan dood aan Arbicarb-vergiftiging per jaar!”

Lees ook: Honde vergiftig vir motorfiets

Bayer CropScience het in 2011 opgehou om Temik te vervaardig en alle voorraad was teen einde November uitverkoop.

In Mei 2012 is die registrasie van Temik teruggetrek. Temik is hoofsaaklik gebruik met plaagbeheer vir aartappelboere, maar is erg gereguleer. Slegs geregistreerde plaagbeheermaatskappye kon dit bekom en boere moes spesiale opleiding kry om met dié gif te werk.

Die vraag is nou, wáár kry die booswigte die gif in die hande? Dr. Verdoorn het al in Julie 2010 ’n verslag aan die sekretaris van die Polisie voorgelê, waarin hy die gevare van Temik, en veral Aldicarb (die formulasie wat in Temik voorkom), uitspel.

Die meeste van die korrelrige gif wat deesdae gebruik word met die vergiftiging van honde, is Aldicarb-formulasies en nie noodwendig Temik nie.
Alle Aldicarb-formulasies is egter ewe dodelik – “10 keer meer dodelik as strignien!” (Strignien staan bekend as wolwegif).

Lees ook: Gifstrooiers slaan derde keer toe by huis

Dr. Verdoorn se verslag sê in ’n neutedop dat die vergiftiging van diere, hetsy troeteldiere of plaasdiere en selfs wild, alles deel is van ’n baie groter misdaadsirkel.

Die gebruik van Temik en ander Aldicarb-formulasies is onwettig vir landbougebruik, maar daar is steeds nie wetgewing daaroor nie en dit is net daar waar die probleem lê, sê dr. Verdoorn. Hierdie Aldicarb formulasies word van oral af die land ingesmokkel en is belaglik maklik by smouse, soos in Middelburg by taxistaanplekke, beskikbaar.

“Die hele misdaadsindikaat begin wanneer die dier die gif ingekry het. Daarna het die misdadigers makliker toegang tot die eiendom en volg inbrake, kardiefstalle, moorde en verkragtings!”

Die middel is dodelik en vinnigwerkend. ’n Persoon wat Aldicarb inkry kan in onder ’n uur sterf.
“Baie mense pleeg met Aldicarb formulasies selfmoord.”

Lees ook: Honde vergiftig: ‘Boewe wil hul uit die pad kry vir inbrake’ waarsku GPF

Hy het destyds vertel van drie voorvalle waar jong kinders onder agt jaar Aldicarb ingekry het nadat hulle gif wat versteek was in vleis vir honde, geëet het. Twee van die drie kinders het gesterf.

’n Klein hondjie wat ’n groot dosis Aldicarb inkry kan binne vyf minute vrek en ’n groot hond binne 12 minute.

Dr. Verdoorn veg al lank vir wetgewing. Hy het in 2014 gesê dat hy weet van een persoon in Heildelberg wat ’n opgeskorte vonnis opgelê is. Dit was egter net omdat hy die Aldicarb-formulasie verkoop het as rottegif. “Hulle kan vir niks anders aangekla word nie. Die polisie kan niks doen nie, want daar is nie spesifieke wetgewing daaroor nie!”

Sy verslag sluit af met: “Dit is nie onmoontlik dat misdaadsindikate ’n massiewe menslike of omgewingsramp kan veroorsaak deur die onwettige smokkel van die gif nie!”

•Die afgelope vyf jaar is daar honderde honde in Middelburg vergiftig.
In bykans al die gevalle het misdaad kort daarna gevolg, hetsy inbrake en veral diefstalle van motorfietse.

•Snr-insp. Oberholzer sê as ’n persoon op heterdaad betrap word waar hy gif vir die diere gooi, kan hy aangekla word vir dieremishandeling.

•Alhoewel die meeste honde voorheen in die nagte vergiftig is, was die meeste vergiftigings die afgelope paar maande vroeg oggende as mense hulle diere laat uitgaan en werk toe gaan.

 

 

 

 

Lees ook:

 

Trokdrywer ernstig beseer nadat hy in ander trok vasry 

Twaalfjarige wat in ongeluk gesterf het, op familieplaas begrawe

Dorp wil erfenisskatte bewaar

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button