Top opleidingseenheid nou weiveld vir beeste
Maleoskop wat eens op 'n tyd een van die top opleidingseenhede vir die polisie was, is nou 'n verlate en verwaarloosde stuk grond waar beeste wei.

In die laat 1960’s het die eerste polisie-opleiding in Maleoskop begin vanuit ‘n tent. Die opleidingsbasis het egter vinnig uitgebrei en in ‘n dorp van sy eie ontwikkel.
Die opleidingseenheid is gestig om polisiebeamptes op te lei in afdelings soos onluste en skarebeheer, asook teeninsurgensie.
Gedurende die tyd van die grensoorlog moes alle polisiebeamptes intensiewe opleiding van ses weke lank voltooi in gespesialiseerde wapens en bosoorlogvoering.
Die koevoet- en taakmageenhede is ook hier opgelei.

Lande soos Amerika, Japan en Sjina, het selfs van hulle burgers gestuur om daar opgelei te word.
Op sy dag, was daar tot 800 kursusgangers wat op ‘n slag opleiding ontvang het.
Daar het 400 gesinne gewoon, en daar was sewe kampe met elk sy eie bevelvoerder en ontspanningsgeriewe, soos ‘n swembad, wat deur die kursusgangers en instrukteurs gebou is.
Maleoskop het tot sy eie gholfklub gehad, wat ontwerp is deur Dave Carpenter, Herklaas Strydom, asook Robbie Roberts wat steeds by die Groblersdal polisiestasie werk, en ‘n gereelde gholfspeler is by Groblersdal Gholfklub.

Besighede het veral baat gevind wanneer hierdie 800 kursusgangers ‘n “dorps-dag” gehad het. Kursusgangers is met busse na Groblersdal aangery waar hul inkopies kom doen het.
Alle vleis en kos, wat deur die Maleoskop opleidingseenheid aan die kursusgangers gegee is, is in Groblersdal aangekoop.
Die opleidingseenheid is op 31 Desember 2002 gesluit deur Jackie Selebi, voormalige nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Grondeise is ook ingedien waar die opleidingsbasis was en behoort die grond nou aan Kgoshi Rammupudu van die Bakgaga-Bakopa stam. Die grond is omskep in weiding vir die stam se beeste.

Op die dag wat die opleidingsbasis in Maleoskop gesluit is, was daar 400 gesinne wat in huise op die basis gewoon het, 108 instrukteurs en 300 werkers, wat ander heenkome moes vind.
In 2009 het Aquarius Platinum’s Blue Ridge myn op die buitewyk van Maleoskop produksie begin.
In September 2010 is daar besluit om die myn te herontwikkel en infrastruktuur te installeer weens suboptimale mynontwerp en lae randpryse. Die herontwikkelingsprojek het in die laaste kwartaal van 2010 begin.
Tydens die herontwikkeling het die maatskappy tot die gevolgtrekking gekom dat die myn nie sy voldoende teiken sal bereik om verdere ontwikkelingsuitgawes te regverdig nie.
Die maatskappy het die mynbedrywighede en verdere ontwikkeling in die tweede kwartaal van 2011 gestaak.
Tans word die myn onderhou, maar geen produksie vind plaas nie.
Lees ook:
Trokdrywer ernstig beseer nadat hy in ander trok vasry
Twaalfjarige wat in ongeluk gesterf het, op familieplaas begrawe
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
