Inbreker betrap na hond vergiftig is
’n Inbreker is laasnag op heterdaad betrap in ’n kompleks net nadat ’n groot hond in die kompleks vergiftig is.
“Ons hond moes met sy lewe boet sodat hulle kon inbreek!” het mnr. Reghard Botha vanoggend gesê.
Hy en sy vrou, Minette, is in die vroeë oggendure gewek toe hulle stemme hoor en deur die venster sien dat die polisie doenig is by een van hul bure se meenthuise in Blackmorestraat (Mineralia).
Mnr. Botha sê een van die ander bure het wakker geword en iets gehoor. Deur haar badkamervenster het sy gesien ’n verdagte gaan in by ’n meenthuis en dat daar ook een is wat probeer om in te breek in ’n bakkie.
Hulle het dadelik die polisie gebel.
Die booswig is op heterdaad in die meenthuis betrap en gearresteer. Die een wat by die bakkie probeer inbreek het, het die nag ingevlug.
Die meenthuis inwoners het gehoor hoe die polisie die inbreker vra of hy enige wapens het, maar hy het heeltyd ontkennend geantwoord.
Kort nadat die polisie weg is met die inbreker, het mnr. Botha steeds onveilig gevoel, want hul hond, Ringo, is gisteroggend vergiftig.“Ringo was Minette (sy lewensmaat) se beste vriend. Hy het gister verskriklik tekere gegaan en kort daarna het hy gevrek! Dit was hulle wat dit gedoen het!”
Mnr. Botha het besluit om sy vriend, Ferdie Labuschagné (CSC Tactical Sekuriteit) te bel sodat hy die kompleks nog ’n keer deeglik kon deursoek om te kyk of daar nie iemand in die donker skuil nie.
Die twee mans het ook oral gekyk of daar nie enige wapens weggesteek is nie.
Hulle het ook onder die bakkie gekyk waar die een booswig probeer inbreek het, en het dadelik die 9mm pistool opgemerk.
Die polisie is ’n tweede keer uitgeroep en is die wapen aan hulle oorhandig.
•Mnr. Botha sê hy was na sy hond se vergiftiging gister baie onrustig. Omstreeks 23:00 het hy ’n voertuig hoor luier in die omgewing en by sy venster uitgekyk. ’n Silwer Peugeot is opgemerk wat lank op die brug in Verdoornstraat gestaan en luier het. Hy glo dié voertuig het moontlik iets daarmee te doen.
Mnr. Labuschagné het gemeld dat ’n silwer Peugeot ’n paar dae gelede betrokke was by ’n poging tot inbraak in Aerorand.
•Dit is onseker hoe die inbrekers in die kompleks, wat elektriese omheining het, ingekom het. Alle aanduidings is dat hulle iets teen die muur aan die buitekant gesit het en daarna oorgeklim het.
Lees ook:
Trokdrywer ernstig beseer nadat hy in ander trok vasry
Twaalfjarige wat in ongeluk gesterf het, op familieplaas begrawe
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za