Puma afrigter sê borge wat nie verpligtinge nakom is ‘lafaards’
Die Mpumalanga Rugby-unie doen aansoek vir die likwidasie van hul 2019 hoofborg na miljoene se uitstaande borggeld tot ’n kontrakbreekdispuut gelei het.
Daar is verlede jaar in November aangekondig dat Innovative Solutions Group (ISG) die nuwe hoofborg vir die Pumas sou wees. ISG se hoof uitvoerende beampte, Arnoux Maré, het tydens die bekendstellingsgeselligheid gesê dat sy besigheid in Mpumalanga gewortel is en dat die borgskap sy ondersteuning aan rugby bewys.
As deel van die borgkontrak het die ISG handelsmerk onder andere op die bors van die spelertruie gepryk. Die Pumas het die hele Supersport Rugbyreeks, tot in die eindstryd, met die truie gespeel. Dinge het egter volgens die Mpumalanga Rugby-unie versuur, toe daar ’n reeks kortbetalings gemaak is. Die uitstaande geld beloop volgens die unie miljoene.
Lees ook: Gewese Puma voorry met messe toegetakel
Pieter Burger, hoof uitvoerende beampte by die Mpumalanga Rugby-unie, sê dat die impak van die borggeld wat hulle nie ontvang het nie, verrykend is.
Buiten vir die reuse korting in die 2019 begroting, wat na die 2020 begroting oorgedra sal moet word, is daar nie geld om nuwe kontrakte met spelers te sluit nie.
“Ek bepaal my spelerkontrakte op grond van die fondse wat ek met borgkontrakte kry. Die kontrakvenster vir spelers het 1 Julie oopgemaak en ek het ’n klomp spelers wie se kontrakte in Oktober verval, wat ek nie graag wil verloor nie, maar vir wie ek nie op die oomblik kontrakte kan aanbied nie,” sê mnr. Burger.
Lees ook: Jong Morgan begin vir Pumas

Hy sê die kwessie is aan hul regspan oorhandig. Na talle pogings om te onderhandel, het mnr. Maré se regsverteenwoordiger, volgens mnr. Burger, aan hulle gesê dat sy kliënt kontantvloeiprobleme het. Hy het gevra dat hulle onderhandel om die uitstaande bedrag teen ’n afslagprys oor twee jaar te betaal. Mnr. Burger sê dat onderhandelinge van daar af “stil” is.
Die Mpumalanga Rugby-unie het ’n maand gelede hul voorneme verklaar om ISG te laat likwideer. Die 21 dae tydperk waarin ISG kon terugvoer gee het verlede week verstryk en mnr. Burger sê dat hy verwag om binnekort kennisgewing te kry dat die aansoek om likwidasie ingehandig is.
Lees ook: Die reuk van kos en dertig spelers wat ‘n bal jaag
“Hulle het nie ’n verweer ingehandig teen die intensie om te likwideer nie, net weereens gesê dat hulle graag sal wil onderhandel, maar nie verder uitgebrei nie. Ek verwag om voor die einde van hierdie week bevestiging te kry dat die likwidasie aansoek ingedien is,” het mnr. Burger gesê.
Die Puma afrigter, Jimmy Stonehouse, het tydens die vyftigjaar feesvierings van die unie in die Mbombela Stadion, na borge wat nie hul finansiële verpligtinge nakom nie, as “lafaards” verwys.
Lees ook: Kloppers lei Pumas op die veld
Daar is ’n media-navraag na mnr. Maré gestuur deur middel van sy woordvoerder, Sya van der Walt-Potgieter. Hy is onder meer gevra om te reageer op bewerings dat ISG die vrugte gepluk het van die ooreenkoms, soos hul handelsmerk prominent op die Puma truie, sonder om hul verpligtinge na te kom.
Mnr. Maré het op die navraag gereageer deur te sê: “ISG sien die saak as afgehandel. Die Pumas self het die kontrak met ISG beëindig. Hulle het ’n nuwe borg, Phakisa Holdings, en ISG wens hulle alle voorspoed toe.”
Ander nuus:
VIDEO: Swem bakkie, swem! Die bakkie wil nie swem nie!!!
Man kritiek na kar deur muur ry
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
