Die week in Middelburg se erfenis: Die verhaal agter die ikoniese konsentrasiekampfoto
Die verhaal onthul die identiteit en 96-jarige lewenspad van Johannes Scheepers, die seuntjie met die groot skoene in Middelburg se ikoniese konsentrasiekampfoto.
In die Middelburgse Konsentrasiekamp is ’n foto geneem van ’n klein seuntjie by ’n buitekookarea, met hopeloos te groot grootmensskoene aan sy voete. In hierdie enkele foto is ’n hele lewensverhaal vasgevang – ’n verhaal van oorlog en tragedie, maar ook van ’n lang lewe.
Die foto het mettertyd die ikoon van die Middelburgse Konsentrasiekamp geword. Maar wie was hierdie seuntjie, en wat het van hom geword?
Die seuntjie op die foto was klein Johannes Jacobus Scheepers en hierdie is sy lewensverhaal.
Biografiese data
Gebore: 27 September 1893, Middelburg
Gedoop: 14 Januarie 1894, Middelburg
Hy was woonagtig op die plaas Witklip, naby Wonderfontein in die Middelburg-distrik.

Klein Johannes se gesin
- Vader: Johannes Jacobus Kock (Koos) Scheepers
• Gebore: 17 Julie 1844, Uitenhage, Kaapkolonie
• Oorlede: 20 Oktober 1899, Talana, Dundee, Natal, op 55-jarige ouderdom
• Begrawe: Massagraf by Dundee. - Moeder: Hester Johanna, née Snijman
• Gebore: 22 Oktober 1855, Uitenhage, Kaapkolonie
• Oorlede: 12 November 1919, Middelburg, op 64-jarige ouderdom
• Begrawe: Ou Begraafplaas, Middelburg.
(FamilySearch, 2025)
- Die gesin het bestaan uit:
- Johanna Cornelia (1879-1944)
- Theodorus Cornelius (1880-1949)
- Martha Catharina Louisa (1888-?)
- Johannes Jacobus (1893-1989).
Die gesin moes ná 1880 van die Oos-Kaap (Kouga) na die Zuid-Afrikaansche Republiek verhuis het, aangesien die twee oudste kinders in die Oos-Kaap gebore is. Daarna het hulle op die plaas Witklip by Wonderfontein gewoon.
Witklip het direk aan Roodepoort gegrens, die plaas waar kmdt. Gideon Jacobus Scheepers (1878-1902) grootgeword het. Die twee gesinne moes mekaar dus geken het.
Dit is onbekend of klein Johannes voor die oorlog, op sesjarige ouderdom, reeds by die skool op Wonderfontein was. Daar was reeds teen 1884 ’n skool op Wonderfontein.
Johannes se vader se dood
Op 30 September 1899 het die Middelburgkommando vanaf Middelburgstasie gemobiliseer in die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Johannes se vader, Koos Scheepers en sy 19-jarige seun Theodorus Cornelius, bekend as Doris, het as deel van die kommando gemobiliseer.
Of Hester Johanna en die kinders by die stasie was om hulle af te sien, soos ander burgers se families, is onbekend, maar dit blyk onwaarskynlik.
Die kommando het via Pretoria na Sandspruit, die laaste stasie voor die Natalse grens naby Volksrust, beweeg. Op 2 Oktober 1899 was die kommando by Sandspruit. Op 11 Oktober is oorlog verklaar.
Ná ’n diens gelei deur ds. Alewyn Burger, leraar van die Witkerk, het die Middelburgkommando, as deel van genl. Lukas Meyer se mag, die grens oorgesteek. Volgens genl. Piet Joubert se aanvalsplan moes die mag Dundee op 20 Oktober 1899 vanuit die ooste aanval en die Talana- en Lennox-heuwels beset. Koos en Doris was deel van hierdie mag.
Burger beskryf hoe die burgers versprei het en lede van die Middelburgkommando, tussen burgers van ander kommando’s, agter die bekende klipmuur op Talana-heuwel geveg het.
Koos het net agter die muur, in die voorhoede van die geveg, gesneuwel. Sy seun Doris was by sy pa se lyk toe hy deur die Britte gevange geneem en na Dundee as krygsgevangene afgevoer is.
Ná ’n besluit oor ’n skietstilstand het die Boere-mag oor die Buffelsrivier teruggeval. Die volgende oggend, 21 Oktober, het die versameling en versorging van die gewondes begin. Di. Burger en J.P. Liebenberg van Bethal het hulle na ’n veldhospitaal in ’n plaashuis agter Talana-heuwel geneem, waar hulle aanvanklik met die mediese versorging gehelp het.
Daarna is die lyke versamel. ’n Plaaslike boer het grond aan die westekant van die hospitaal vir ’n graf beskikbaar gestel, waarna ’n massagraf voorberei is.

Op 22 Oktober 1899 om 11:00 het di. Burger en Liebenberg 19 van die gesneuweldes, onder wie Koos, met ’n plegtige begrafnis in die massagraf begrawe. Die teksvers was 2 Samuel 1:25: “Hoe het die helde geval, diep in die geveg.”
Theodorus was waarskynlik nie by sy vader se begrafnis teenwoordig nie.
Magistraat P. Hugo van Dundee, ’n skoolvriend van ds. Burger, het ná vertoë deur Burger die 14 gevangenes, onder wie Doris, vrygelaat. Die presiese datum van die vrylating is onbekend.
Doris het weer by die Middelburgkommando aangesluit. Hy het tot aan die einde van die oorlog as ’n bittereinder onder genl. Muller op kommando gebly en eers ná die vredesluiting met die algemene oorgawe oorgegee.
Die gesin se omstandighede
Die gesin was brandarm. Koos se boedel dui daarop dat hy nie ’n grondeienaar was nie. Dit is onbekend of hy ’n bywoner op Witklip was, maar dit is waarskynlik.
Die boedel bevat ’n inventaris van sy baie beperkte besittings, met ’n totale waarde van £25(slegs ongeveer R625 teen 2026 wisselkoers). Die karige meubels wat in die huis aangeteken is, gee ’n aanduiding van die gesin se omstandighede.

Ná Koos se dood het Hester Johanna op Witklip aangebly saam met Johannes en sy twee dogters. Die oorlog het egter al nader aan Wonderfontein beweeg.
Op 1 Januarie 1901 het Britse troepe al haar se vee gekommandeer vir gebruik deur die hospitaal op Wonderfontein. Sy het verklaar dat kapt. Scott en lt. Taylor die vee gekommandeer het.
Dit was waarskynlik No. 11 Veldhospitaal van genl. French se No. 1 Kavalleriebrigade, wat vir ’n tydperk op Wonderfontein gestasioneer was. Hoewel sy in haar verklaring na die “Rooi Kruis”-hospitaal verwys het, was daar geen Rooi Kruis-hospitale wat die Britte ondersteun het nie.
Dit wil voorkom asof Hester Johanna hierna steeds op die plaas aangebly het.
Johannes, sy moeder en susters in die konsentrasiekamp
In April 1901 het die grootskaalse operasie begin om genl. Ben Viljoen se mag vas te pen. Aanvanklik was die doel om genl. Louis Botha, die regering en genl. Viljoen se kommando gevange te neem. Hierdie doelwit het egter gou verskuif na die verwoesting van plaashuise en die afvoer van inwoners.
Lt.genl. sir Bindon Blood was in beheer van die dryfjag. Lt.kol. G.E. Benson, met 2 200 man en agt kanonne, moes vanuit Middelburg na Bothasberg opruk, terwyl lt.kol. W.P. Pulteney met 1 700 man en drie kanonne vanuit Belfast opgeruk het. Die teiken was die gebied agter Bothasberg en die Steenkampberge by Roossenekal.
Op 24 April 1901 is die plaashuis op Witklip deur troepe wat deel van lt.genl. Blood se mag was, waarskynlik elemente van lt.kol. Benson se troepe, verwoes.
Die Scheepers-gesin is afgevoer, waarskynlik eers na Blinkwater (Stoffberg), volgens sers. Wilsworth se dagboek, en vandaar na die Middelburgse Konsentrasiekamp.



Op 2 Mei 1901 het Johannes saam met sy moeder, en sy twee susters, Johanna Cornelia (21) en Martha Catharina Lousia (13), in die Tweede Konsentrasiekamp, suid van die spoorlyn in Middelburg, aangekom.
Hulle is in tent I 237 geplaas.
Op 1 Junie 1901 het die kampskool in die konsentrasiekamp geopen. Die Gereformeerde Kerk is as skool vir die groter kinders gebruik, terwyl markiestente in die kamp as skool vir die kleiner kinders, soos Johannes, gedien het.
Die gehalte van die aanvanklike onderwys word as swak beskryf en dit was hoofsaaklik tot lees, skryf en rekenkunde beperk. Vanaf Januarie 1902 het verskeie groepe gekwalifiseerde onderwyseresse uit Engeland en Skotland aangekom. Teen April 1902 was daar 1 910 kinders in die kampskool en het die skooldag van 08:30 tot 13:00 geduur.
Daar kan dus aanvaar word dat Johannes en sy suster Martha vir ongeveer ’n jaar skoolonderrig in die kamp ontvang het.
Daar was ook kinders wie se ouers, uit vyandigheid teenoor die Britte, geweier het dat hulle skool bywoon. Hierdie kinders is elke oggend in spanne bymekaar gemaak en moes die kamp skoonmaak.
Die kampskole het ná die vredesluiting gesluit.

Tussen Oktober en Desember 1901 is die kamp na die Derde Konsentrasiekamp op Kanonkop verskuif. Die Scheepers-gesin het saamgetrek, en dit is waarskynlik waar die bekende foto van Johannes geneem is.
Johannes was waarskynlik agt jaar oud toe die foto geneem is.
Sy broer, Doris, toe 21 jaar oud, was steeds op kommando.
Hester Johanna en haar drie kinders het die kamp eers op 10 September 1902, drie maande ná die vredesluiting, verlaat en na Witklip teruggekeer.
Dit ondersteun die moontlikheid dat hulle bywoners was, aangesien bywoners eers skriftelike toestemming van die plaaseienaar moes kry voordat hulle die kamp kon verlaat en na die plase kon terugkeer. Hierdie proses kon tyd neem.
Die gesin se lewe ná die oorlog
Ná die oorlog het Hester Johanna ’n eis by die Vergoedingskommissie ingedien vir vergoeding vir die verlies van vee en die huisraad wat in die huis was toe die plaashuis tydens die dryfjag verwoes is.
Sy het haarself as baie arm beskryf en verklaar dat sy absoluut niks besit het nie. Die Kommissie-lêer bevat ook opmerkings dat sy ’n brandarm weduwee sonder inkomste was.
In 1903 het sy £157 vergoeding ontvang vir die verlies van hul vee, graan, meubels en huislike toebehore.

Sy het verder aangedui dat haar gesondheid swak was.
Ná die oorlog het sy in Middelburg gewoon. Soos reeds genoem, was Koos waarskynlik ’n bywoner op Witklip. Ná sy dood moes Hester Johanna moontlik die plaas verlaat, aangesien bywoners toegelaat is om op plase te woon in ruil vir hulp met plaaswerk.
Dit is onbekend watter skool Johannes, toe hy 10 jaar oud was, bygewoon het nadat sy moeder haar in Middelburg gevestig het. Vanaf 1908 het die skole saamgesmelt tot ’n intermediêre skool in ’n gebou wat later die Middelburg Laerskool sou word. Hy het waarskynlik sy skoolopleiding daar tot Vorm I – die huidige gr. 8, ook bekend as “school leaving” – voltooi.
Hester Johanna is op 12 November 1919, op 64-jarige ouderdom, aan hartversaking oorlede. Sy is in die Ou Begraafplaas in Middelburg begrawe. Middelburg Erfenis het ’n Blou Erfenis-bordjie by haar graf opgerig.

Doris het by die munisipaliteit in Pretoria gewerk en in Pretoria-Noord gewoon. In sy verklaring aan die Vergoedingskommissie het hy aangedui dat hy ’n salaris van £10 per maand verdien het, waaruit hy sy moeder moes onderhou.
Johannes is op Woensdag 2 April 1919, op 26-jarige ouderdom, met Anna Catharina Cecilia Franx (25 Desember 1898-24 Oktober 1989) van Middelburg getroud. Die huwelik is deur ds. Burger bevestig.
Sy moeder sterf ses maande later.

Teen die tyd van sy huwelik het Johannes reeds in Johannesburg gewerk, en die egpaar het hulle in Halfweghuis gevestig. Hy het waarskynlik in die myne gewerk, hoewel sy beroep nie aangeteken is nie.
Die egpaar het een seun, Gideon Jacobus Scheepers (1934-2018), gehad, wat as klerk gewerk het.
Volgens die 1972- en 1984-sensusrekords het Johannes en sy eggenote op Erand 25, New Road, Halfweghuis, saam met Gideon Jacobus en sy vrou gewoon.

Volgens beskikbare rekords het Gideon Jacobus geen kinders gehad nie.
’n Lang lewe
Johannes het sy moeder met 70 jaar oorleef.
Hy is op 30 Oktober 1989, op 96-jarige ouderdom, aan nierversaking oorlede. Sy eggenote is net ses dae tevore, op 24 Oktober 1989, oorlede.
Ongelukkig kon hul grafte nie opgespoor word nie.
Die foto van ’n enkele seuntjie met té groot skoene, wie se vader in die oorlog gesneuwel het, het mettertyd die vergestalting en ikoon van die Middelburgse Konsentrasiekamp geword.
Agter dié enkele foto lê egter ’n lewensverhaal van 96 jaar – van ’n Middelburgse plaashuis, oorlog en verlies, ’n konsentrasiekamp en armoede tot ’n huwelik, ’n gesin en ’n lang lewe.
Die volledige bibliografie is by die outeur beskikbaar.
