Wat gebeur met ’n karp wat jarelank in ’n dam in Middelburg gegroei het en uiteindelik meer as 15 kg weeg?
Volgens plaaslike hengelaars behoort dié vis weer terug in die dam gegooi te word en nié in iemand se oond of koidam te beland nie.
Verskeie hengelaars het hul kommer uitgespreek nadat daar onlangs gesien is hoe visse uit die Athlonedam verwyder word. Op twee ander geleenthede is daar ook opgemerk hoe visse by dié dam gevang en gevat word.
Inwoners en vissermanne sê die probleem is veral kommerwekkend wanneer dit by die “groot karp” kom.
Klein damme hou groot visse
Die dorp se damme is gewild onder hengelaars en daar word onder meer gewone karp, spieëlkarp, baars en baber gevang.
Van die grootste gewone karpe waarvan plaaslike hengelaars weet, weeg volgens hulle 15,5 kg en 14,2 kg. Spieëlkarpe van tussen 6 kg en 8 kg is ook al gevang.
Maar ’n groot karp word nie oornag groot nie.
“Dit vat tussen 10 en 15 jaar vir ’n karp om daardie enorme grootte te bereik,” sê een van die hengelaars.



Hierdie rare bulletjievisse kan ’n groot prestasie vir ’n hengelaar wees. “Om sulke groot karpe in ’n dorpsdam tussen huise te hê waar enige hengelaar moontlik sy persoonlike beste kan vang, is nie iets wat ’n mens sommer kry nie.”
Hulle vertel verder dat die beginsel van vang-en-vrylaat eenvoudig is. “Die vis behoort nie aan ons nie, maar aan die hele gemeenskap. Ons vang die vis, neem ’n foto en sit hulle weer terug, sodat die genot van visvang vır jare deur die gemeenskap geniet kan word.”
Volgens die hengelaars is daar egter mense wat nié die reëls respekteer nie en sommer visse na privaat damme neem. “Ek is nie dag en nag by die dam nie, maar hierdie dinge gebeur gereeld,” sê een van die vissermanne gefrustreerd.
Die grootste kommer bly egter dat die damme se ekosisteme en biodiversiteit met elke gestroopte vis swakker word.
Die hengelaars hoop daarom dat die vang-en-vrylaat-reël deur almal gerespekteer sal word sodat dié “Burg” se visse in Middelburg se damme bly.
