Die Inry is vol want Gé sing
Wanneer ’n Gé Korsten fliek by die Maanlig Inryteater gewys het, het die karre verby die Olifantsrivierbrug gestaan. Van Middelburg se kant af het dit ver opgehoop terug dorp toe. Die Inry was vol!
Die jong kosverkopers, met hulle mandjies om die nek, het breed geglimlag, soos hulle van kar na kar aan vensters geklop het met: “Iets vir julle vanaand?”
Daar was nie tyd vir wasem van die vensters afvee nie.
Vroue het geswymel, want behalwe vir Gé was daar ook die aantreklike Martin Pols.
Hoor my Lied! Daar was Gé en Min Shaw-koors soos min:
“Ons Ouma het geleer van die A en die B en die grote C
En die E en die D en die snaakse F
Ons kinders wil nou leer’
Dat A in Aap en H in Haas
Die E in eer van ’n leë leer
Net eenders klink vir ons
Koppies knik so knik, knik, knik
Handjies klap so klap, klap, klap…”
…en die land het saamgesing.
Nou word daar Saterdagaand hulde gebring aan Gé.
Vanjaar se THE VOICE-wenner, Tasché, is een van die kunstenaars in Frans Swart se produksie, GÉ SING: HOOR MY LIED wat op 31 Augustus 2019 by Carnival City se Big Top Arena aangebied word.

Besprekings kan gedoen word by Computicket of groepe meer as 10 by 011 815 3000. Ander kunstenaars wat saam met Tasché gaan hulde bring aan hierdie legendariese superster, is André Schwartz, Jannie Moolman, Arina de Witt, die PJ Twins (ook bekend geword in The Voice), Louis Loock en ’n negejarige knapie, Scott Engelbrecht, wat opera soos ’n Engel kan sing.
Frans Swart, regisseur en samesteller van GÉ SING: HOOR MY LIED sê toe hy hoor hoe Tasché Johannes Kerkorrel se HILLBROW sing en veral vertolk, het hy geweet Tasché moet in hierdie produksie optree.
Swart het bekend gemaak dat daar ’n spesiale liedjie vir Gé geskryf word, wat deur Tasché vir die eerste keer in GÉ SING: HOOR MY LIED gesing gaan word. Swart het die lirieke geskryf en Chanie Jonker, die musikale regisseur van die produksie, het die musiek geskryf.
Ander nuus:
‘Dis mos mielies!’ juig skool na groot oes
Gesteelde Mustang laas in Pretoria gesien
Padslagting: Saak teen beskuldigde van rol geskrap weens uitstaande bloedtoetse
