Rugbytoer gekanselleer na vrese van geweld
’n Blou Bulle sewes rugbyspan se toer na Zambië is sopas gekanselleer na vrese van geweld wanneer die span daar land.
“Ons was al amper op die vliegtuig toe bel die Unie en sê daar is dreigemente ontvang vir wanneer ons land. So die toer is so pas gekanselleer, ons wag nou vir ons sakke,” het een van die span se spelers, Louis Roos, op sosiale media gesê.
Roos is gekies vir die Blou Bulle se sewes rugbyspan wat die naweek aan die Zambië sewes sou deelneem. Nog ’n Middelburger, Vickey Mey, sou die spanbestuurder gewees het.
Ander spanne wat in aksie is, is Namibië, Lesotho, Botswana, Spartans, Malawië, en Zimbabwe.

Roos het vanaf die lughawe gesê hulle was al amper op die vliegtuig toe hulle aangesê is om terug te keer, omdat daar op sosiale dreigemente was vir wanneer hulle in Zambië sou land.
Die Blou Bulle Rugby-unie se Willem Strauss het gesê die spelers se veiligheid kon nie gewaarborg word nie en daarom is die toer gekanselleer.
Die kansellering van die toer is ’n aanduiding dat die geweld teenoor buitelanders in Suid-Afrika besig is om op ’n wye front uit te kring.
