Krok se gunsteling happie is glo mense
’n Krokodil het hom tuisgemaak naby die watersuiweringswerke van Groblersdal en nou sweer inwoners van die omgewing hoog en laag die krok se gunsteling happie is mense.
Mnr. Wayne Wagener van Gunmar Sekuriteit sê dat hy verskeie klagtes van inwoners ontvang het, wat beweer dat dié krokodil mense opgevreet het, terwyl hulle by die rivier hengel of hul klere gewas het.
Die inwoners het mnr. Wagener genader om die krokodil te skiet, maar hy het aan hul verduidelik dat dit teen die wet is om die krokodil dood te maak.
Hy het self die krokodil gesien en skat dat hy sowat vier meter lank is.
“Een van die inwoners sê dat hulle ander diere aan toue naby die rivier vasgemaak het, maar dat die krokodil nie hierdie diere vreet nie en eerder mense vang wat naby genoeg aan die oewer van die Olifantsrivier kom.”
Hy sê ook dat die krokodil al vir ‘n geruime tyd in hierdie gedeelte van die rivier woon, maar dat ander krokodille ook al daar gesien is.
