News

Motorverkoper moes ‘polisiemanne’ duisende betaal

’n Inwoner van Middelburg is betrek by ’n sindikaat waar onder andere diamante, polisiemanne en duisende rande betrokke is.

“Ek moes R52 900 aan die polisiemanne betaal om nie toegesluit te word nie!” het die man, wat uit vrees vir sy lewe anoniem wil bly, vir www.mobserver.co.za vertel.

“En dit is nie die eerste keer wat dit gebeur nie! Ander koerante het verlede jaar al daaroor berig en as jy hul stories lees, is dit asof ek dit self geskryf het!”

Hy wou sy voertuig verkoop en het dit op die internet geadverteer.

’n Persoon het hom gebel en gesê dat hy ’n trokdrywer van Namibië is en dat hy graag die kar kontant wil koop.
Volgens die “trokdrywer” kon hy nie die geld oorbetaal nie, maar hy was in Johannesburg waar hy die geld sou oorhandig.

Die man het die trokdrywer in Johannesburg ontmoet. Op hierdie tydstip het die trokdrywer se storie verander. Hy het skielik nie die kontant by hom gehad nie en het gevra dat hulle dit by sy vriend kan gaan haal. Hy het ook sommer by die man in die kar geklim en beduie waarheen hulle moet ry.

In die middedorp van Lenasia het ’n persoon uit ’n besigheid gekom en by hulle in die kar geklim.

Lees ook: Centurion couple robbed and held hostage in online car sale scam

Die “trokdrywer” het ’n sakkie, met wat gelyk het soos diamante, uit sy sak gehaal en vir die ander man, wat by hulle in die kar geklim het, gewys. Die nuwe persoon in die kar het R200 000 uitgehaal en wou die diamante vat.

Die drywer het egter gesê die diamante se waarde is meer as R1.2 miljoen en dat hy nog geld soek.

Op hierdie oomblik het die Middelburger vir beide mans gesê om uit sy kar te klim, want hy het besef hy het met misdadigers te doen.

Die een met die kontant het uitgeklim, maar die drywer het by hom gepleit om hom by ’n Mall in die omgewing te gaan aflaai. “Hy het só aangehou dat ek besluit het om hom af te laai en dan te ry.”

Lees ook: UPDATE: Scammed Centurion man allegedly threatened

Hulle het egter net ’n klein entjie gevorder, toe ’n polisievoertuig hulle aftrek.

Die groep “polisiemanne” het hom beskuldig dat hy die diamantsmokkelaar is en ’n polisieman het by hom in die voertuig geklim en gesê hy moet ry, hulle gaan Soweto Polisiestasie toe.
Hy is egter heen en weer beduie. “Ons moes kort-kort stop om nog iemand op te tel. Dan ’n kaptein en dan nóg ’n ‘polisielid.” Hy onthou dat daar op ’n stadium drie polisiemanne by hom was.

Hulle het vir hom gesê dat al hierdie probleme kan “verdwyn” as hy hulle betaal. Hy het net R2 900 in sy beursie gehad, maar dit was nie vir hulle genoeg nie. Hy is aangesê om na ’n bank te ry, waar hulle hom vergesel het na ’n kitsbank en hy nóg R50 000 moes trek.

Nadat hy dié geld, asook die R2 900 in sy beursie aan hulle oorhandig het, het hulle sy selfoon en ander artikels aan hom terugbesorg en gesê hy kan ry.

•Die polisie ondersoek die saak.

•In die laaste twee jaar is daar verskeie kere in ander koerante en op webtuistes oor soortgelyke voorvalle berig.

Lees meer hieroor by: https://rekordcenturion.co.za/136741/centurion-man-also-caught-in-car-sale-scam.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button