Wie is Pieter de Wet, Viljoen, Van Rensburg?
Die man wat Bethesda, Huis van Hoop, bedrieg het met R8 000 gedurende Februarie, is ’n ou kalant.
In Middelburg noem hy homself soms Pieter de Wet, eintlik “net Pieter”, in Wellington het hy onder Van Rensburg artikels verpand, maar eintlik is hy net Pieter Viljoen!
Boonop was hy al verhoorafwagtend (11 maande) in die tronk vir bedrogklagtes en het sy eksvriendin ’n beskermingsbevel gekry na beweerde aanranding.
En as hy uitgevang word, dan gee hy sy “persoonlike probleme” die skuld en vertel ellelange verhale om te wys dat hy eintlik die slagoffer is.
Maar Viljoen moes gewéét het die dag toe hy na Bethesda, ’n huis vir gestremdes op Middelburg, gestap het, dat hy beslis nie die fondse wat hy beloof het, sal kan gee nie.
Hy kon dan nie eers sy huurgeld waar hy bly betaal nie. Maar in dieselfde tyd wat hy fondse ingesamel het vir Bethesda, kon hy skielik sy huurgeld betaal?
Bethesda, Huis van Hoop se aantygings teen Viljoen
•Mnr. Shane du Preez (hoof, Bethesda) sê “Pieter” (hy het nooit sy van gegee nie) het by hulle aangestap gekom en dadelik begin vertel van “Angels Anonymous” en die wonderlike projekte wat hulle vir ander organisasies doen.
“Hy het ’n paar keer teruggekom en selfs gevra vir ’n brief dat hy die projek namens ons doen, maar ek het gesê, nee, ons vra nie vir geld nie. Dit is Angels Anonymous wat dit mos aanbied.”
Mnr. Du Preez sê Pieter het die partytjie vir Februariemaand gereël en selfs aangebied om tafeldoeke, koffie en eetgoed te bring. Mnr. Du Preez het egter gesê dat hulle die koffie sal voorsien en Viljoen sou die eetgoed voorsien.
Lees ook: ‘Belfast Boef’ landwyd gesoek
Viljoen het later uitgebrei oor hoeveel donateurs na die partytjie gaan kom.
Die aand met die geselligheid het alles goed verloop. Talle donateurs het wel opgedaag en daar was meer as genoeg eetgoed.
Kort daarna het hulle besef iets is fout. Bethesda het ’n R1 000 inbetaling gekry en kort daarna R500.
Daarna niks meer van die beloofde R8 000 nie.
Toe mnr. Du Preez begin navraag doen, het hy besef dat Viljoen hulle om die bos gelei het.
•Talle donateurs het bevestig dat hulle oorbetalings aan Viljoen gedoen het en selfs die aand kontant aan Viljoen betaal het.
Spysenieringsvroue vertel hul verhaal
•Me. Celia Burger en haar dogter, Charlene, het die spyseniering gedoen vir die funksie.
Viljoen het hulle vir vier maande beloof dat die R2 000 vir die spyseniering gaan betaal, maar daar het niks van gekom nie.
Nadat Bethesda verneem het dat hulle nie betaal is nie, het hulle dadelik die R2 000 vir hulle oorbetaal vir hul dienste.
Meubels gekoop sonder om te betaal
•Een van die ander donateurs, me. Carina Barnard (van Best Pine Furniture) sê sy het vanaf verlede jaar “Angels Anonymous” se projekte ondersteun.
Buiten koopbewyse vir armes, was Viljoen só seepglad, dat sy selfs R19 900 se meubels aan hom verkoop het, wat hy kwansuis binne vier maande sou betaal. Daarvan het niks gekom nie.
Maak Jeep vol en leen vir hom geld
•Mnr. Justin van Rooyen het Viljoen in Kanonkop leer ken toe hy hom eendag voorgekeer het langs die pad.
Mnr. Van Rooyen het in sy Audi TTRS gery en Viljoen het gesê dat ’n meisie met kanker graag in die voertuig sal wil ry.
Alles is gereël en die meisie het wel ’n geleentheid in die voertuig gekry.
Daarna het Viljoen vir geld gevra sodat die meisie vir kankerbehandeling kon gaan.
Mnr. Van Rooyen het gesê hy sal die voertuig van die gesin volmaak en mnr. Viljoen het opgedaag met ’n Jeep (wat kwansuis aan die meisietjie se ouers behoort), wat R900 gekos het om vol te maak. www.mobserver.co.za het verneem dat Viljoen die Jeep by iemand geleen en daarmee rondgery het.
Dit is nie bevestig of daar ooit met die voertuig Pretoria toe gery is nie.
Lees ook: Pasop vir slimpraatjies
•Mnr. Van Rooyen het ook R500 vir Viljoen geleen, wat nooit terug gegee is nie.
Vra geld vir Bethesda en myners
•Me. Denise du Plessis sê Viljoen was ook by haar om geld in te samel vir Bethesda en het sy vir hom R500 gegee.
By die Bethesda geselligheid het hy ook vir haar gevra vir nog geld in kontant, maar sy het geweier. Later wou hy weer by haar fondse kry vir mynwerkers van Optimum, wat sonder ’n inkomste is, maar sy het gesê hy moet haar nie weer pla nie.
“Ek onthou dat hy gesê het dat Carina (van Pine Furniture) ‘meubels geborg het vir projekte!”
Drama as huurder
•In Februarie het Viljoen en ’n jong swanger vrou opgedaag by ’n gesin (wat anoniem wil bly) in Kanonkop. Hulle het net ’n paar sakkies by hulle gehad.
Hy het verskonings gemaak dat hulle sukkel en dat sy meisie ’n moeilike swangerskap het.
Verder het hy gesê dat sy meisie uit ’n stormagtige verhouding kom, maar dat hy nou na haar omsien.
Hulle het die paartjie jammer gekry en hulle ingeneem. Nadat hy gesukkel het om aanvanklik te betaal, het hy skielik die geld beskikbaar gehad.
“Ek wonder of hy nie die Bethesda donateurs se geld gebruik het om ons te betaal nie?” is gevra.
Daarna het hulle elke keer gesukkel om hul huurgeld te kry. “Hy het soms ’n paar rand inbetaal en dan dieselfde dag dit weer terug geleen. Hy het op een stadium ook gesê sodra hy van sy “Angels Anonymous geld kry, sal hy dit betaal.”
Lees ook: Verdwyn nadat werk nie afgehandel is nie
Die gesin het selfs vir Viljoen-hulle meubels, breekware en potte geleen, tot die meubels opgedaag het.
Einde Julie het die paartjie verdwyn en hul meubels, asook ander familie se meubels wat met tyd daar gestoor is, net so agtergelaat.
Hulle het hom gekontak, waarop hy gesê het hy bly in Bronkhorstspruit en sal sy agterstallige huurgeld stuur en sy huisware kom haal. Tot op hede het hy nog nie sy woord gestand gedoen nie.
•Volgens die gesin het daar al talle mense na hul huis gekom om Viljoen op te skroef vir gelde wat hy hulle skuld of beloftes wat gemaak is.
Verskeie mense het in die tyd wat hy daar gebly het, ook opgedaag met kos en klere wat hulle vir Viljoen se “projekte” gebring het.
Motorfietsklubs ook kwaad
•Motorfietsklubs het Viljoen leer ken tydens ’n geleentheid by Hoërskool Kanonkop waar fondse ingesamel is vir Hoërskool Driehoek waar ’n brug op kinders geval het.
Hulle sê Viljoen het daar rondgestap en gesê hy is van “Angels Anonymous” en dat hy besig is om ’n meisie wat kanker het se drome waar te maak.
Die groep het fondse ingesamel vir die meisie en hulle weet dat Viljoen die kind Wimpy toe geneem het vir ’n ete. “Waar is die res van die R8 000 wat ingesamel is?” wou hulle weet.
•Viljoen het hulle ook gevra om te help met projekte vir ’n dogtertjie wat teruggeplaas is in die sorg van haar ma.
Van ’n bed tot klerasie is gevra en hulle het dadelik ingespring om te help.
Al die projekte is gedoen onder “Angels Anonymous” se naam en Viljoen het ’n video laat maak met foto’s van die motorfietsryers met van die artikels wat geskenk is.
R5 000 vir ’n klanksisteem
•Nog ’n motorfietsryer, mnr. Pierre van der Merwe, sê Viljoen skuld hulle R5 000 vir ’n unieke klanksisteem wat hy vir hulle sou bou.
Selfs op radio vir hulp gevra
•Viljoen het ’n paar maande gelede op ’n plaaslike radiostasie oor “Angels Anonymous” gepraat en gevra vir fondse vir die meisie met kanker.
’n Nuwe van
•www.mobserver.co.za weet dat Viljoen in Wellington artikels gepand het onder die van “Van Rensburg”.
Selfs ’n beskermingsbevel
•Sy vriendin (wie se naam om menslikheidsredes weerhou word) het ook op ’n stadium ’n beskermingsbevel teen Viljoen gehad.
In die bevel het sy gekla van fisiese en emosionele mishandeling en dat Viljoen bedrog gepleeg het op haar naam.
•Daar is verneem dat Viljoen en sy meisie wel sowat drie maande gelede ’n baba gehad het, maar dat sy hom verlaat het om by familie te gaan bly. Sy wou nie met die koerant praat nie.
Beloftes om skoolfonds te betaal
Me. Alecia dos Reis, wat finansiële krisisse beleef het, sê Viljoen het onderneem om haar kind se skoolfonds te betaal (R2 750), asook R5 000 by te dra vir haar boetie. Daar het niks van gekom nie.
“Hy het wel gereël dat my dogtertjie Olifants River Lodge toe gaan, maar Olifants het dit self geborg én Viljoen is saam.”
Sy het gesê dat hy ook ’n maand by hulle in hul huis gebly het en net vir ’n week betaal het.
Die ‘hulp’ by die sopkombuis
Lindi de Winnaar (Middelburg Sopkombuis) sê Viljoen wou betrokke raak by hul projek en het ook vleis kom haal vir “armes”.
Hy het vertel sy “vrou se niggie lê op sterwe” en dat hy haar en haar man R1 500 sou betaal as hy hulle Pretoria toe sou neem. Op pad soontoe het die wiel gebars en is belowe om dit ook reg te maak. Tot nou toe, is niks betaal nie.
Beloftes vir kankerdogter
Linda Cassell (18) se ma en stiefpa, Sonnette en Leon Viljoen, sê hy het hulp van R11 000 beloof vir Linda se behandeling vir bloedkanker.
Hulle het egter nooit die geld gesien nie.
“Hy het wel gereël vir ons vir verblyf in Pretoria, maar dit is deur ander mense betaal. Ons moes ook vir ons eie kos betaal.”
Kaartjies vir prys na Sun City
•Persone wat kaartjies gekoop het, “ten bate van die kankerdogter”, wonder of die wenprys ooit oorhandig is. “Dit is tot op ’n plaaslike radiostasie geadverteer.” Die wenprys was ’n buskaartjie heen en weer na Sun City.
Lang lys klaers vanaf 2013-2016
•Op die Report A Crime webtuiste (https://www.reportacrime.co.za/CrimeReport.aspx?ID=3106) is talle bewerings uit Viljoen se verlede opgediep.
Viljoen antwoord:
•De Wet of Viljoen: Viljoen het sonder om te skroom gesê dat sy van “De Wet” is toe hy gebel is vir kommentaar. Toe hy later daaroor gekonfronteer word, het hy gesê dat hy sy van verander het “om my verlede agter my te sit.”
•Bethesda: As verduideliking vir Bethesda se bedrogspul, het hy gesê dat die donateurs nie hul beloftes nagekom het nie en “dat ek dit sal uitsorteer. Hulle moet net vir my sê wie het inbetaal. Ek sal ’n rapport trek en dit vir julle gee. Dit gebeur soms mos maar dat mense jou drop wat hulle beloof het en van die donateurs het seker nie betaal nie.”
Hy het erken dat hy kontant by die geselligheid gevat het. “Ek het dit in koevertjies gesit sodat ek dit op een slag vir Bethesda kon gee.”
Viljoen wou egter nie sê wat van dié koevertjies geword het nie. “Ek is die gesig van ‘Angels Anonymous’ en ja, dit maak nie saak wat agter die scenesgebeur het nie. Ek vat verantwoordelikheid daarvoor.”
•Meubels: Op die beskuldiging dat hy nie die meubels betaal het nie, het hy gesê dat hy wel ’n deposito betaal het, maar erken dat hy nie in die tyd die res betaal het, soos hy onderneem het nie.
“Ja, goed het gebeur, Ek wil nie verskoning maak nie, ek het persoonlike probleme gehad.”
•As huurder: Oor sy verblyf het hy beskuldigings gemaak ook oor ooreengekome bedrae wat betaal moes word oor ekstra geisergebruik, maar het wel erken dat hy ’n maand agterstallig is op sy huur. “Ek sal dit uitsorteer.”
•R5 000 vir sisteem: Hy erken dat daar R5 000 deur ’n motorfietsryer aan hom oorbetaal is vir ’n “Jukebox” en sê dat hy net die tussenganger was. Iemand anders sou die stelsel bou.
“Maar ja, dit het nie gerealiseer nie en dit is my verantwoordelikheid.”
•Kankerdogter: Viljoen het ook erken dat hy nog R5 000 vir die meisie met die kanker se familie skuld. “Ek sál dit nog doen”.
•Geregistreer of nie? Op die vraag of “Angels Anonymous” ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is, het hy gemeld “dat ons nog besig is met die papierwerk.”
•Direkteure? Daar is ook gevra wie is die direkteure van die organisasie en was die antwoord: “die ander direkteur is Jan Rossouw en hy is tans in Australië.”
•Viljoen het nog talle kere gesê dat alles wat gebeur het te wyte is aan sy persoonlike probleme, maar dat hy nou alleen is en sy verantwoordelikhede gaan probeer nakom.
“Ek weet nie wat om te sê nie, dis nie lekker nie. Ek het nou ’n tydelike werkie en my persoonlike probleme is iets van die verlede. Ek vat volle verantwoordelikheid.
•Bewerings op misdaadwebtuiste: Oor van die bewerings op die “Report A Crime” webtuiste, het hy in bykans ’n uur onderhoud, op alles antwoorde gehad en aangedui dat hy die “slagoffer” was .
•Uit hof gegooi: Die saak waarvoor hy verhoorafwagtend was vir 11 maande, sê hy “is uit die hof uit gegooi”.
•Beskermingsbevel: Hy het erken dat daar ’n beskermingsbevel deur sy eksvriendin teen hom geopen is.
“Ek hét haar geklap, daar is nie ’n verskoning daarvoor nie, maar sy het ’n drankprobleem gehad en het my begin aanrand. Sy het my geskop en geslaan en ek het haar teruggeklap. Ek het nooit haar naam misbruik nie.”
•Naamskending: Viljoen het aangedui dat hy karakterskending sake gaan open teen mense wat “stertjies bygelas het. Ek was nie net sleg nie. Ek het baie mense gehelp.”
