Lugtydboef se hamburgers vir kinders gegee
Twéé besighede het die afgelope week onder die lugtydboef deurgeloop en is honderde rande kwyt.
www.mobserver.co.za het die nommer wat Donderdag gebruik is gebel, waarop eers ’n ouerige man geantwoord het. Die opvangs was swak en toe ons ’n tweede keer bel en vra vir Jaco, het ’n ander, jonger persoon, geantwoord en gesê sy naam is “Riaan”.
Hy het beweer dat hy ’n simkaartruiling die vorige aand gedoen het en dat hy nie “weet waaroor alles gaan nie en hy weet nie wie is Jaco nie.” Hy het ook gesê hy is van Pretoria.
Lees ook: LUISTER – talle geteiken deur lugtyddief
Mnr. Dreyfus van Heerden was die eerste wat vir die lugtydboef se “slim stories” geval het.
Hy is ’n verkoopsman by Sign A Rama en sê ’n man, wat homself Christiaan genoem het, het hom Woensdag gebel en gevra hy moet vir hom werk op ’n plaas op die Hendrinapad kom doen.
Mnr. Van Heerden was al op pad soontoe, toe die man bel en vra dat hy vir hom lugtyd koop, want hy wil nie dorp toe ry, terwyl hy vir mnr. Van Heerden wag nie.
Mnr. Van Heerden moes twee Vodacom kaarte van R275 en ook een van R110 koop en dit vir “Christiaan” stuur, wat dit kwansuis dringend nodig gehad het.
Nodeloos om te sê, kon hy nie vir “Christiaan” opspoor nie.
•Donderdag het ’n ene “Jaco” toegeslaan op die personeel by Gino’s Hamburgers & Take Aways.
Mnr. Jamie Wilcox sê in hulle geval was die lugtydboef baie uitgeslape.
Hy het gebel en gesê hy is een van hul gereelde kliënte se man. Hy het selfs die vrou se naam genoem. Hulle het nie onraad vermoed nie en die 12 hamburgers begin maak wat “Jaco” bestel het.
Kort daarna het “Jaco” egter ’n WhatsApp gestuur en gevra of hy sy bestelling kan vergroot na 15 hamburgers en ook vir ’n guns gevra.
Hy het weer gebel en gevra vir lugtyd, wat hy sal betaal wanneer hy die hamburgers oplaai.
Lees ook: Gawe oom lekker skelm
Mnr. Wilcox sê hy het eers vir twee R275 Vodacom lugtydkaarte gevra en daarna vir nog twee R55 kaarte.
Hy het dit gaan koop, waarop “Jaco” gevra het dat hy die strokies moet afneem en vir hom stuur. Hy het selfs gesê hulle moet die strokies hou, want hy wil dit kom betaal.
“Jaco” het natuurlik nooit opgedaag nie en die hamburgers is geskenk aan laerskoolkinders.
•Beide mnre. Van Heerden en Wilcox sê daar was ’n WhatsApp profielfoto op die nommers wat hul gebel het, maar hulle vermoed die persoon laai die profielfoto’s van Facebook af.
Lees ook: Pasop vir man wat lugtyd en Grandpa poeiers soek
•Talle inwoners van Middelburg en ook buurdorpe was al die slagoffers van die lugtydslenter.
Hy doen hom gewoonlik voor as ’n vriendelike “oom”.
Lees ook: Grandpaboef steeds bedrywig
Die boef het selfs al gevra dat ’n lid van die Middelburg herpetologiese vereniging na sy plaas moet kom om ’n mamba te vang, wat sy skape kwansuis doodpik. In hierdie geval het die persoon hom egter in sy peetjie gestuur toe hy begin praat van lugtyd.
Verlede jaar het hy soms vir sy slagoffers gevra dat die persone vir hom Grandpa-pynpoeiers moet saambring.
Lees ook: Jou lugtyd help ’n tronkvoël dwelms koop
•www.mobserver.co.za het onlangs met mnr. Ben Almero, van National Crime Assist (NCA), gepraat, wat na die soveelste slagoffer, begin speurwerk doen het.
Hy het die skuldige se spoor tot in die Bethal tronk gevolg.
Mnr. Almero het die man by gevangenisdienste aangemeld. Die man is na ’n ander tronk verplaas, sodat hy nie meer kontak met sy makkers het nie. Mnr. Almero het gesê dat dit egter nie die enigste gevangene is wat met die slenter besig is nie.
Hulle het onlangs nog ’n persoon uitgevang wat in die tronk sit.
Hy sê dat dit wil voorkom of die slenter deur gevangenes onder mekaar aangeleer word. Skuldiges wat uitgevang word, word wel aangekla, maar daar is dikwels reeds iemand wat tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.
Dit blyk ook dat gevangenes soms hulp van buite het om teikens te identifiseer. Met ander tye infiltreer hulle Facebook of WhatsApp groepe en identifiseer so teikens.
Die lugtyd wat deur die slenter bekom word, word weer as middel om handel te dryf gebruik om vir goedere soos geld, sigarette of dwelms te ruil.
Mnr. Almero het gesê dat solank as wat mense naïef is en stories “wat te goed is om waar te wees” glo, sal die slenter nooit ophou nie.
“As iemand jou uit die bloute bel, met ’n goeie storie en vra vir lugtyd, moet jy weet hier is iets verkeerd. Hou op om vir hulle lugtyd te koop en dan sal hulle ophou met die scam, want hulle sal sien dit werk nie meer nie,” sê mnr. Almero.
