Vrou onthou laaste oomblikke saam met haar pa
Die dag van 10 September 2003 is verewig in Magda Brits en haar familie se geheue vasgebrand.

Dit is die dag wat haar pa, Lappies Labuschagné (65), in die kop geskiet is vir net R196 en ’n bibi pistooltjie in sy winkel, Disselboom, in die Tonteldoosdistrik.
Saterdag het Magda weer saam met sowat 100 mense hulde gebring aan familielede wat koelbloedig vermoor is tydens die opgradering van die Witkruismonument.
Elke jaar word nuwe kruise opgesit van mense se geliefdes wat vermoor is. Hierdie jaar is 51 kruise opgesit. Een van daardie kruise was vir ’n vrou wat verlede jaar by die Witkruisseremonie was. Terwyl hulle daar was, het die boodskap ook deurgekom van ’n bejaarde vrou wat verkrag en vermoor is.

Dié witkruise is aanvanklik opgesit vir boere wat op plase vermoor is, maar het nou uitgebrei na ander moorde.
Haar gedagtes stap weer terug na die dag voor haar pa se moord. Die honde wat vergiftig is. “Al die tekens was daar.”
Die dag van die moord het hy haar aangejaag, want hy was self onseker oor wat moontlik kon gebeur. Sy onthou dat sy drie keer terug gegaan het na die winkel.

“As ek maar net geweet het dit die laaste keer wees wat ek pappa soos altyd sou sien, sou ek drie keer gegroet het. Gesê het hoe dankbaar ek is vir ’n pappa soos my pappa en dat ek nie net dankbaar is nie, maar pappa bitter lief het.”
Na die aanval het hulle hom op sy rug gevind. “Hy het op sy rug gelê, onherkenbaar, maar steeds baklei om hier te bly. Pappa wou iets sê, maar die bloed het in pappa se keel afgeloop en jy het begin verstik.”
Sy onthou haar ma se rou snikke en hoe sy by hom gepleit het: “Skattebol moenie my los nie, ek is hier en ek is lief vir jou…”
Magda het gesukkel met ’n afskeidswoord en het net vir hom gesê hoe lief sy en die ander kinders hom het.
Sy vertel dat sy tydens die moordenaars se eerste verskyning die drie herken het. Magda het in die hof opgestaan om die een deurtjie in die hof toe te maak, toe sy die drie op die trappies (wat van die selle na die hof lei) sien sit het.

Net die dag voor die moord was hulle in die winkel toe sy daar was. “Hoekom het hulle nie liewer vir my getakel nie, want vir my sou hulle dalk nie eers dood gemaak het nie.”
Volgens Magda wou die groep ook nie dat sy deel wees van die uitkenningsparade nie, want hulle het haar ook dadelik herken.
Sy hoef hulle gelukkig nie uitgeken het nie, want haar pa se bloed is op hul klere gekry. “Hulle het deur sy bloed geloop toe hulle hom klaar geskiet het.”
Magda se verhaal is bykans dieselfde as elke familielid wie na ’n moord talle vrae het.
“Ek word kwaad as mense praat van statistieke as daar oor moorde gepraat word. Statistiek se gat! Daardie persoon is iets van iemand in ’n gesin! Dit is lewens wat gevat word!”
Sy onthou die wreedheid van verhale van kruise wat geplant moes word. “’n 37-jarige man wat aan die brand gesteek is. ’n Persoon wat agt keer geskiet is. ’n Bejaarde wat wreed vanjaar op 16 Mei vermoor is.”

Magda sê sy is deel van die Witkruismonument se organiseerders “omdat dit voel ek doen iets om almal bewus te maak van al die moorde in Suid-Afrika. Ek voel ek hoort daar. Een van ons lede is ook in kontak met iemand in Texas om dit na buite uit te dra dat ons moeg is vir al die moorde in ons land.”
Sy het al talle Facebookvriende verloor as sy berig oor die moorde in ons land. “Hulle wil dit nie sien nie. Hulle dink dit kan nie met hulle gebeur nie.”
Tydens die Witkruisseremonie het haar emosies weer oopgebars met al die vrae, maar het sy weereens besef “God het ’n plan met alles. Die Skrif wat ek gekry het in ’n droom was dat jy nie moet wraak neem nie, want God straf dié wie sy kinders doodmaak. Was dit nie vir Here nie, sou ek dit seker nie kon maak om ’n seer gedeelte met julle te deel nie.”

Al is dit 16 jaar later, gaan die seer en verlange nooit weg nie. “Ek weet dat pappa nooit met my sou plekke ruil nie, en daarvoor is ek dankbaar, want ek kon my kinders sien grootword. Pappa ek salueer jou! Vir altyd my held!
•Mnr. Labuschagné se moordenaars is almal twee keer lewenslank tronk toe gestuur.
•Die organiseerders van die Witkruismonument wil graag meer mense, nie net slagoffers se families nie, by hul projekte betrek. Nie net vir die opgradering van die monument nie, maar ook vir die bewusmaking en bekamping van moorde in ons land.
Vir meer inligting bel Lita Cross Fourie (hoof van die Witkruisorganisasie) by 060 414 6129.

