Bekende oudpolisieman sterf na ongeluk
’n Bekende oudpolisieman van Middelburg, kolonel Chris Botha (58), het Vrydagaand kort na ’n trompop botsing gesterf.
Sy vrou, Rina, sê sy is omstreeks 18:20 vanaf die toneel in Van der Hoffstraat, ’n enkelbaan vanaf Pretoria Noord, deur ’n vrou van die toneel af gebel.
Chris het nog die pinkode van sy foon afgehaal en die vrou gevra om Rina te bel. “Sy het gesê Chris was in ’n ongeluk en hy vra dat ek hom moet kom haal.”
Hy was op pad terug huis toe, na ’n maandelikse byeenkoms van oud veiligheidspolisielede, toe die ongeluk gebeur het.
Dit het haar sowat 45 minute, weens druk verkeer geneem, om by die toneel uit te kom. “Ek het Chris in die agtergrond hoor praat tydens die oproep. Hy was by sy volle positiewe.”
Met haar aankoms op die toneel, het twee ambulanse by haar verby gegaan. Chris was in die een ambulans.
Lees ook: Hennie steeds onthou
“Die outjie van die insleepdienste het nog gesê ek moet asseblief mooi ry hospitaal toe, ‘want die oom is orraait.”
Weens geweldige inwendige bloeding het kolonel Botha ’n hartstilstand in die ambulans gehad en het paramedici weer sy hartklop aan die gang gekry. Met sy aankoms by die Montana Hospitaal was hy reeds bewusteloos en het sy hart kort daarna weer gaan staan.
“Ons is dankbaar Chris het nie gely nie. Ek is net verslae. Ek weet nie wat om te sê nie.”
Sy het haar man beskryf as ’n liefdevolle persoon, wat ’n ongelooflike verhouding met haar en sy kinders gehad het. “Hy het altyd ’n mooi woordjie vir iemand gehad en was altyd reg met ’n grappie. Hy was so ’n spesiale mens.”
Kolonel en me. Botha was 36 jaar getroud en het vier jaar gelede na Pretoria verhuis, nadat hy medies ongeskik verklaar is.
Me. Botha vertel dat hy as jong polisieman in 1979 by die veiligheidstak van die Lebombo grenspos begin werk het.
Vandaar is hy na die Middelburg Polisiestasie, wéér na die veiligheidstak en uiteindelik weer terug na die Middelburg Polisiestasie waar hy ’n skofbevelvoerder was.
Hy het as luitenant kolonel uit die polisie getree.
Lees ook: Vrou onthou laaste oomblikke saam met haar pa
•Oudkolonel Anton Crafford (wat die bevelvoerder was van die PKRS-taakspan tot 2013) het gedurende die naweek ’n huldeblyk oor oud lt-kol Botha geskryf.
Graag wil ek persoonlik hulde, eer en respek betoon aan Chris wat Vrydagaand tragies oorlede is in ’n motorongeluk in Pretoria. Chris het ’n paar jaar terug weens mediese redes afgetree en na Pretoria verhuis.
Het hom leer ken toe ek in 1993 Mpumalanga toe verplaas is.
Chris was ’n baie rustige ou, baie lief vir diepseehengel, hom nooit kwaad gesien nie. Die laaste jare voor sy aftrede het hy by Vispol, Middelburg gewerk – ons het mekaar gereeld by tonele raakgeloop.
Ek sal nooit vergeet – die dringendheid in sy stem – toe hy my en die span versoek het om uit te kom na die aanklagkantoor (tragiese skietvoorval waartydens sers. Hennie Steyn doodgeskiet is).
Chris het hierdie toneel baie traumaties ervaar, want dit het op sy skof gebeur en een van sy topmanne is doodgeskiet.
Ek eer sy nagedagtenis – seënwense aan sy familie en al sy kollegas.
Saluut ou grote. Rus in vrede.
•Kolonel Botha was ook ’n gewilde lid van die Albatros Diepsee Hengelklub en het dosyne boodskappe van simpatie sedert sy afsterwe op hul WhatsApp-groep deurgekom.
•Me. Botha het aangedui dat hulle vandag die begrafnisreëlings sal begin tref. Sodra die reëlings gefinaliseer is, sal dit op www.mobserver.co.zagepubliseer word.
