News

Vrou gewelddadig in Middelburg aangeval

’n Vrou is vanoggend gewelddadig by haar huis in Eikestraat, Kanonkop aangeval.

Me. Whelma du Toit se agter- en voorkop is oopgekloof met ’n skerp voorwerp tydens die aanval. Sy het nooit haar aanvallers gesien nie, aangesien hulle haar van agter af oor die kop geslaan het en haar daarna met pepersproei in die oë gespuit het.

Me. Du Toit het vinnig die basiese inligting aan www.mobserver.co.za deurgegee oor die aanval, terwyl die polisie se forensiese span besig was om haar huis te fynkam vir leidrade.

Sy sê sy het omstreeks 10:00 by haar voordeur uitgestap om werk toe te gaan.

Die volgende oomblik het iemand haar van agter af met iets oor die kop geslaan. Terwyl sy tot verhaal probeer kom het, het iemand haar direk daarna met pepersproei in die oë gespuit.

“Ek kon niks sien nie.”

Sy is by die huis ingedwing, waar hulle haar op haar rug laat lê en weer pepersproei in haar oë gespuit het. Op hierdie tydstip is sy weer met die skerp voorwerp in die gesig gekap wat ’n diep wond in haar gesig veroorsaak het.

Daarna het hulle haar aangesê om op haar maag te draai. Die boosdoeners het haar hande agter haar rug vasgemaak met kabelbinders, ’n stuk draad én die bande van haar voorskoot, wat in haar kombuis gehang het.

Sy het deurentyd gebid: “Here, U bloed oor my”.

Terwyl sy daar gelê het, het sy gehoor hoe hulle die huis plunder en een het aanmekaar fluisterend vir haar gevra: “Where is the safe? Where is the money?”

Nadat hulle ’n geruime tyd die huis gevandaliseer en deursoek het, het hulle weer gevlug.

Sy kon nie op hierdie stadium sê wat alles gesteel is nie.

•Me. Du Toit is na die Life Midmed Hospitaal geneem waar die snye in haar kop en gesig met steke geheg is.

 

Back to top button