Wateronderbrekings veroorsaak deur skade aan hooflyn
Die dorp het die afgelope week verskeie langdurige wateronderbrekings ondervind, en talle inwoners van Kanonkop en Dennesig was vir minstens twee dae met droeë krane.
Die jongste oorsaak van die wateronderbrekings in Mhluzi en Dennesig was as gevolg van die hoof Vaalbank waterlyn wat Vrydag deur ’n kontrakteur beskadig is.
Die kontrakteur, wat besig is om gedeeltes te vervang met nuwe pyp, het Vrydag die hooftoevoer beskadig.
’n Waterlyn vanaf Witbankdam is intussen oopgemaak en volgens me. Lindiwe Silolo van die munisipaliteit behoort daar nie verdere wateronderbrekings te wees nie, omdat die reservoirs nou almal vol is.
Kyk: Video – bome waai die dorp vol
Kanonkop, Dennesig en Mhluzi is die ergste geaffekteer met onderbrekings die afgelope naweek.
Volgens me. Silolo vat die herstel van die hooflyn egter baie langer as normaalweg omdat ’n groot area om die pyplyn as gevolg van die skade oorspoel het.
Derhalwe sak die modder onder munisipale masjienerie en kontrakteurs weg en herstelwerk sal op dreef kom sodra die grond uitdroog.
Me. Silolo sê die reservoir skoonmaakproses is ook afgehandel en dat waterdruk nou normaal behoort te wees regdeur die dorp.
