Koevoetbende slaan toe in Aerorand
Die nou reeds bekende koevoetbende het gisteroggend in Pilansberg, Aerorand, toegeslaan.
Dit blyk dat iets hulle die skrik op die lyf gejaag het, want hulle het ’n televisiestel en skootrekenaars gegryp en kort daarna weggejaag.
Jong kinders, wat in die straat met hul fietse gery het, het gesien dat dit ’n wit Volvo is wat wegjaag en ook dat dit ’n GP registrasienommer het.

’n Motoris wat wou draai by die groen lig in Samora Machelstraat (oorkant Toyota, by die Mall) sê “ek is byna in my m&%#r in gery!” Die Volvo het met ’n geweldige spoed in Mandelarylaan afgejaag gekom, die rooi verkeerslig ignoreer en in Bethal se rigting gejaag. Die man het kort daarna van die inbraak gehoor en dat dié voertuig gebruik is.
Lees ook: Koevoetbende steel Ford Mustang
Mnr. en me. Riaan en Nicky Voges was geskok toe hulle van die inbraak by hul huis hoor, aangesien daar baie veiligheidsmaatreëls is.
Die groot palissadehek se motor is buite aksie gestel en die hek van die spoor afgetel.
Daarna het die booswigte die swaar veiligheidshek uit die steenmuur uitgebreek, waarskynlik met ’n koevoet, en ook die voordeur daarmee oopgebreek.
’n Televisie en twee skootrekenaars is gesteel. In hul soektog deur die huis se kaste, het hulle ook ’n gaspistool gebuit.

In een van die kamers is daar ’n aanduiding dat hulle van die elektroniese toerusting reg gesit het om te vat, maar dat iets hulle gepla en hulle daarna gevlug het.
•Die Volvo het nie voorste nommerplate opgehad nie.

