News

Geskree van mense en karre wat mekaar tref bly in man se gedagtes

Bejaardes wat weens pyn skree en karre wat mekaar bly tref, het CJ de Vos laasnag wakker gehou.

Hy ag homself gelukkig dat hy geen ernstige beserings opgedoen het nie, nadat ook hy in die kettingbotsing tussen 13:30 en 13:45 op die N12 tussen Delmas en Groenfontein betrokke was. Die pad was tot 19:45 gesluit.

“Hulle praat van 18 karre, maar ek het meer as 20 voertuie gesien wat skade opgedoen het.”

Hy was vanaf Johannesburg na eMalahleni op pad, toe hy opmerk dat ’n aankomende voertuig ligte flits. Hy het dadelik spoed verminder.

“Ek kon op ’n stadium nog die voertuig voor my sien, maar die volgende oomblik was ek in die rook en kon nie eers my voertuig se enjinkap sien nie.”

In ’n breukdeel van ’n sekonde het hy gesien die voertuig voor hom tref ’n ander kar en hy het uitgeswaai, waarop nog ’n botsing gevolg het. Terwyl CJ uitgeswaai het, het hy vier ander karre, waaronder ’n Isuzu wat op sy sy gelê het, getref.

Hy onthou dat een voertuig se deur oop was en dat hy die voertuigdeur afgery het. Die vermoede bestaan dat hy iemand wat uit dié kar geklim het, raakgery het, maar in die chaos kon dit nie bevestig word nie.

Die oomblik toe hy tot stilstand kom, was hy naby aan die aankomende verkeer en moes hy magteloos toekyk hoe ander karre mekaar aan daardie kant tref.

“Dit het reg langs my bakkie gebeur!”

Weens die digte rook en chaos om hom, het hy aanvanklik besluit om in sy bakkie te bly, maar het later uitgeklim om te kyk of hy nie hulp kan verleen nie.

Die twee bejaarde mense in ’n Ford Figo sal hom altyd bybly. Hulle het geweldig geskree van pyn en hy onthou dat die bejaarde vrou vasgepen was in die voertuig. Mnr. De Vos het gehelp dat hulle die kar se deur afbreek, sodat die vrou uitgesny kon word.

Daar was talle beseerdes in ’n taxi en die bestuurder moes ook uitgesny word.

Mnr. De Vos het geen idee hoeveel mense beseer is nie, maar hy weet dat een persoon op die toneel gesterf het.
Sy broer, Piet (jnr) het hom omstreeks 15:45 op die toneel gaan haal.

Sy pa, Middelburger Piet de Vos, sê die feit dat sy seun nie beseer is nie, “is absoluut die Hand van die Here. Hy was in die middel van daardie ongeluk en het geen ernstige beserings opgedoen nie!”

•Mnr. Pieter Fouché (hoof, Laerskool Staatspresident C.R. Swart) sê hulle was op pad vanaf die lughawe na Middelburg, toe hulle vanaf Delmas weg gelei is vanaf die N12 op ompaaie, waaronder ook grondpaaie, omdat die pad gesluit was.

“Daar was boere langs die pad wat gewys het waar ons moet ry. Dit was ’n drie ure rit vanaf Johannesburg na Middelburg!”

•Die rook is veroorsaak deur ’n wegholbrand wat weens die stormsterkwinde aangejaag is.

Back to top button