News

Drama in Clubville en Gholfsig – kar op dak en polisie wat hol

Dieselfde tyd wat ’n ongeluk in Gholfsig plaasgevind het, het ’n verdagte vir die polisie gevlug wat vir ’n babelse verwarring onder inwoners gelei het.

Stories is vertel dat ’n persoon wat ’n voertuig gesteel het, weggejaag en die voertuig gerol het in Totiusstraat. Daarna het hy uitgespring en weggehardloop in die rigting van Totiusstraat, waar hy die riete in verdwyn het.

Dit is egter ’n hele verdraaiing van wat regtig gebeur het, alhoewel niemand steeds nie weet hoekom die verdagte, wat die riete in verdwyn het, vir die polisie gevlug het nie.
Die waarheid is dat daar ’n ongeluk was op die hoek van Totius- en DF Malherbestraat kort na 07:00.

Een voertuig het ’n ander voertuig verbygesteek in Totiusstraat, waarop die een voertuig gedraai, die ander een hom getref en een op sy dak beland het.

Bykans dieselfde tyd, kort voor 07:00, het mnr. Kobus Griffith (68) in Eeufeessstraat afgedraf, toe ’n man teen die spoed van witlig verby hom hardloop.

“Hy het die hele tyd omgekyk in my rigting en ek het gewonder waarom,” sê mnr. Griffith.

Die volgende oomblik het ’n polisievoertuig aangejaag gekom en naby die persoon, wat pas by mnr. Griffith verbygehol het, gestop.

Die verdagte het omgespring en in die rigting van mnr. Griffith gevlug. Mnr. Griffith sê hy hardloop altyd met ’n kierie en het reggestaan om die verdagte in sy spore te stuit.
Dit was een te veel vir die man, wat besluit het om terug te hardloop in die rigting van die polisie.

Mnr. Griffith sê hy het teen ’n hoë spoed op die polisielede afgehardloop en was te vinnig vir die polisielede se grypende hande.

“Hy het dwarsdeur die polisielede gehardloop!”

Teen hierdie tyd het ’n tweede polisievoertuig opgedaag en is hulle agter die hardlopende man aan. Hy het egter regs uit Eeufeesstraat gedraai in Totiusstraat in, waar hy tussen die riete in verdwyn het,

Mnr. Griffith sê hy het aanhou draf en later gesien dat nog polisievoertuie opdaag.

“Ek weet nie hoekom hulle hom gejaag het nie.”

www.mobserver.co.za het talle kere die polisie se mediakantoor gebel, maar kry steeds nie antwoord nie.
Dit is onduidelik waarom die polisie die verdagte gejaag het en of hy gearresteer is.

Die joernalis is self ook na die omgewing, maar met ons aankoms, was die polisie nie meer daar nie.

Daar is navraag gedoen by ’n polisiebeampte, maar hy het gesê dat net die mediapersoon antwoorde moet verskaf.

Back to top button