News

Oud-Middelburger doodgery in Mbombela

’n Welbekende oud-Middelburger, Letisia Niemann (38), is Sondag in die vroeë oggendure oorlede, nadat sy Saterdagaand raakgery is naby die Mustangs kuierplek in Mbombela.

Haar suster, Lizel Boshoff, het van die nag se gebeure vertel.

Eben en Letisia bly op die perseel by die familiebesigheid, Quality Sandblasting & Construction, en het saam met vriende Saterdagaand gebraai.

Kort na 22:00 het Eben, Letisia en ’n vriend besluit om ’n draai te gaan maak by die nuwe kuierplek, Mustangs, wat naby hul besigheid oopgemaak het. Hulle het sommer daarheen gestap.
Hulle het twee drankies gedrink en omstreeks 23:15 begin terugstap, waar hulle ’n voertuig gesien het, wat toldraaie op die pad gemaak het.

“Eben en Letisia het hand aan hand gestap en Eben het opgemerk dat dié ou seker kwaad is vir iemand.”
Die volgende oomblik het die voertuig buite beheer geraak en op hulle afgepyl.

 

Die foto van Letisia Niemann wat oral op sosiale media gebruik is, terwyl daar na die persoon gesoek is wat haar dood veroorsaak het, nadat hy haar raakgery het.

“Eben het probeer om Letisia weg te ruk, maar die voertuig het haar getref en sy is bo-oor die voertuig geslinger. Eben het ook geval. Die bestuurder het daarna sy voertuig in trurat gesit en bo-oor my sussie gery. Hy het daarna weggejaag.”

Me. Niemann is per ambulans na die Kiaat Privaat Hospitaal geneem, waar sy Sondag in die vroeë oggendure (01:30) gesterf het.

“Ek het die volgende dag die sak gekry waarin haar klere was en gesien daar is net een skoen. Ek is self na die toneel waar ek haar ander skoen gaan haal het,” sê me. Boshoff.

Sondag is daar op sosiale media gevra vir inligting wat kan lei tot die arrestasie van die persoon wat haar raakgery het.

Hy het homself Maandag oorgegee en volgens die Mbombela polisiewoordvoerder, kapt. Zandile Gqawa, sal hy more (Woensdag) in die hof verskyn. Klagtes van onder andere versuim om op ’n ongelukstoneel te stop, versuim om ’n ongeluk aan te meld en strafbare manslag, word ondersoek.

•Die begrafnis is Vrydag om 14:00 uit die NG Suid Kerk op Middelburg.

•Me. Boshoff het gesê dat haar suster in Middelburg begrawe word, omdat al hul voorgeslagte, die De Jager familie, van Middelburg afkomstig was.

“Op ons oupagrootjie, Lodewyk de Jager, se plaas, is Middelburg gestig.” Die NG Kerk van Lydenburg het op 28 Januarie 1864 die plaas Sterkfontein van Lodewyk de Jager gekoop om ’n kerksentrum te stig. Vandaar is Middelburg ontwikkel.

Me. Boshoff vertel trots dat sy en haar sussie grootgeword het op Middelburg. Hulle het ’n plaas op Doornkop gehad en sy onthou hoe hulle kleilat gespeel het.

Hulle het ook in Elandstraat (Kanonkop) gebly, vanwaar hulle beide eers Kleuterskool Soetdorings toe is, daarna Laerskool Kanonkop en Letisia later Hoërskool Kanonkop toe is. “Letisia was die eerste dogter wat ’n tegniese rigting aan Hoërskool Kanonkop gevolg het.”

Eben en Letisia Niemann op hul troudag.

Lizel is na Hoërskool Middelburg, waar haar oupa, Andries de Jager, en haar ma Marie Human (nooiensvan De Jager) ook in die skool was.

Me. Boshoff en haar ouers is 11 jaar gelede uit Middelburg, maar Letisia en haar man het nog vir jare hier gebly. Me. Niemann het by onder andere TWR gewerk.

Hul ouers, wat nou op ’n plaas buite Waterval Boven bly, het vier jaar gelede vir Letisia en Eben gevra om die bestuur van die besigheid in Mbombela oor te neem en het die egpaar van Middelburg na Mbombela verhuis.

Me. Boshoff onthou hoe kunstig haar suster was. Buiten die spesiale sandblaas-werk wat sy gedoen het, het sy ook daarvan gehou om artikels te maak, soos die spesiale voetstoeltjie uit toue en ’n buiteband.

“Letisia het nog verlede naweek tydens die Human familiefees op Roedtan vir almal glase gegee, waarop sy met sandblasting ‘Human-fees’ geskryf het. Die Dinsdag het ons almal gestop op Groblersdal by my tannie, vanwaar ons uiteen is. Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ek my suster gesien het.”

Me. Boshoff sê daar het al talle mense by die besigheid opgedaag om hul simpatie met die familie te betuig.

“Letisia was duidelik geliefd,” sê sy hartseer. ’n Onthou-laggie breek deur as sy haar suster beskryf. “Letisia was ’n regte party-animal. Sy was lief daarvoor om saam met almal te kuier. Sy het die lewe voluit geniet. Sy was ’n regte mense-mens.”

Sy onthou ook hoe opgewonde haar suster was dat die werk aan haar voertuig voltooi moes word, sodat sy en haar man kon gaan toer.

Me. Niemann en haar man was 20 jaar saam, waarvan hulle die laaste 10 jaar getroud was. Hulle het op 25 September hul 10de huweliksherdenking gevier.

•Sy word oorleef deur haar man, Eben, ouers Pieter en Marie Human, suster, Lizel en swaer, Gerhard.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button