Familie uitgewis in N11 ongeluk, elfjarige seun oorleef
Die botsing gistermiddag op die N11 (Hendrinapad), het 'n Pullenshope familie uitgewis.
Daan en Magda Coetzee, saam met hul dogter, Renata Schoeman en kleinseun Ian Schoeman (11), was gistermiddag op die N11 betrokke in die botsing.
Beide Magda en Renata is opslag dood. Mnr. Coetzee is na Life Midmed Hospitaal afgevoer, en het later aan sy beserings beswyk.
Die skoolhoof van Laerskool Kragveld, mnr. Jan Kotze, is na die toneel ontbied om die jong Ian by te staan.
Die seun is tans in die skoolhoof se sorg, terwyl naasbestaandes op pad is na Pullenshope.

Drie voertuie was in die ongeluk betrokke.
‘n Gemeentelid van die Pullenshope NG Kerk, me Margaret Ueckermann, wat die familie goed geken het, sê dat die gesin, ouma en oupa, hulle dogter en kleinseun, gereelde kerkgangers was by die klein Pullenshope NG gemeente. Renata het tydelik by die kerk gehelp om die perseel skoon te hou, vir ‘n inkomste.
Daar word verneem dat Ian se pa oorlede is.
Mnr. Coetzee het vir jare by Eskom se Hendrina Kragsentrale gewerk.
