Video wys waar vrou raakgery is
Lizel Boshoff het ’n video gemaak om presies te wys waar haar suster, Letisia Niemann (38), Saterdag raakgery is.
Me. Niemann (’n oud-Middelburger) is omstreeks 23:15 Saterdagaand raakgery terwyl sy en haar man, Eben, teruggestap het na hul huis by Qulity Sandblasting & Construction in Mbombela.
Daar het onlangs ’n nuwe kuierplek met die naam, Mustangs, naby hul besigheid oopgemaak en hulle het Saterdagaand na ’n braai besluit om sommer na Mustangs te stap.
Hulle het net twee drankies gedrink en begin terugloop, toe ’n voertuig me. Niemann getref het. Sy is bo-oor die voertuig geslinger, waarop die bestuurder die voertuig na bewering in trurat gesit en weer oor haar gery het. Hy het van die toneel af weggery.

Me. Boshoff wys op die video waar die bestuurder van die voertuig toldraaie op die pad gemaak het en waar die voertuig haar suster raakgery het.
Me. Niemann het Sondag in die vroeë oggendure in die Kiaat Privaathospitaal gesterf.
•Die begrafnis is Vrydag om 14:00 uit die NG Kerk, Suid gemeente op Middelburg.
•Johan Lourens (van Steelpoort) het homself Maandag aan die polisie oorgegee en sal vandag in die hof verskyn.
