Selfs oorskiet braaivleis in Aerorand gesteel
Inbrekers het die afgelope paar dae by talle huise in Aerorand ingebreek.
Verlede Donderdag het booswigte met ’n wit Volvo voor mnr. Riaan Voges se huis in Pilansberg die hek van die spoor afgetel. Daarna het hulle die swaar veiligheidshek uit die muur uit gebreek en ’n televisiestel, skootrekenaars en ’n gaspistool gebuit.
CCTV Videomateriaal van inwoners wie se kameras op die straat wys, het selfs ’n registrasienommer van die Volvo gekry, maar die mediakantoor kon teen druktyd nog nie bevestig of daar iemand gearresteer is nie.

•Sondag in die vroeë oggendure is daar ingebreek by ’n woonstel in Hoekbergstraat.
Me. Karen Loock sê die jong huurders van die woonstel by haar huis het Saterdagaand gebraai. Terwyl hulle gebraai het, het hulle gesien iemand loer oor die muur, maar het op die vlug geslaan toe die jongmense alarm maak.
Nadat hulle klaar gebraai het, het die groep besluit om uit te gaan.
Me. Loock sê sy het aangeneem dis die jongmense wat terugkeer toe die alarm om 02:00 afgaan.
Omstreeks 04:00 het hulle haar wakker gebel en gesê daar is by die woonstel ingebreek.
Me. Loock sê alle aanduidings is dat die inbrekers die skuifdeur en veiligheidshek met ’n skroewedraaier oopforseer het.

’n Televisie, twee skootrekenaars, handsakke en klerasie is gesteel. Die diewe het selfs die vleis gevat wat oor was in die bak van die vorige aand se braai.
Hulle het later voetspore gekry waar een van die inbrekers agter ’n boom geskuil het in die erf.
Me. Loock sê daar was die afgelope paar dae ook kort-kort merkers soos koeldrankbottels voor en in die erf gekry, wat hulle elke keer verwyder het.
•Vrydag is ’n verdagte in ’n erf op die hoek van Chapmans- en Cathedral Peakstraat vasgetrek, maar is later laat gaan.
•Mnr. Albert Maleka sê daar is oor die naweek ook by sy huis in Kransbergstraat ingebreek en talle huisware soos ’n televisie en ander elektroniese toerusting gesteel.
