News

Doef-doef musiek een te veel vir bye

Dit is byetyd en die bye trek deesdae sommer by bote in.

Byeboer Martin Nel sê hy moes die afgelope week by twee geleenthede bye vergiftig wat in die rompe van bote ingetrek het.

Hy sê die ideaal is om nié bye te vergiftig nie, maar daar is geen manier om die bye uit te haal, as hulle reeds in die romp ingetrek het nie. “Dan moet jy die boot se romp oopbreek!”

Om te voorkom dat die bye nes maak in jou boot se romp, moet jy net die boot se prop weer terugsit wanneer jy klaar die water uitgetap het na ’n kuiertjie by die dam. Dan kan hulle nie by die prop se gaatjie invlieg en neste maak nie.

’n Persoon het hom ook gebel oor bye wat in sy swartbaarsboot ingetrek het, maar hy wou nie die bye laat doodmaak nie. In dié geval het mnr. Nel voorgestel dat hy harde musiek, met oordonderende bas, moet speel. “Die bye hou nie van die harde musiek nie en in 90% van die gevalle gee hulle dan pad. Die man het nie weer gebel nie, so ek neem aan dit het gehelp om die bye te verjaag!”

’n Swerm trekbye het twee weke gelede gerus teen ’n boom voor ’n huis in Bloekomsig en is inwoners aangeraai om nie met die bye te lol nie, om te voorkom dat die bye hul aanval.

Mnr. Nel het in die afgelope paar weke al sowat ses swerms uitgehaal. Een van die swerms is veilig verwyder wat in ’n pilaar by die Middelburg Mall gaan nes maak het.

Daarna moes hy ’n swerm gaan uithaal by die kathokke van Feral Care Friends, wat neergesit is naby die Middelburg Mall. Hierdie organisasie beheer wilde katkolonies deur hulle te vang, te laat regmaak, vir siektes te toets en te behandel en dan weer los te laat.

Hy het gevra dat mense nie self byeneste moet probeer uithaal nie en onder géén omstandighede gif soos “Doom” in hul rigting te spuit nie, want dan sal die bye hul aanval.

“Ons almal weet hoe belangrik bye vir die ekosisteem is, maar regdeur die land sit byeboere met ’n ernstige probleem! Die mense moet bid vir reën.”

Dit is in sekere gedeeltes van Suid-Afrika baie droog en dit veroorsaak ’n sneeubal-effek, aangesien daar nie stuifmeel is vir die bye nie en bybeboere dan ook sukkel met hul voortbestaan.

Een van mnr. Nel se vriende in die Laeveld (Sabie omgewing) het laat weet dat hy teen hierdie tyd van die jaar gewoonlik al tussen 8-10 ton heuning gekry, maar tans net op 350kg staan.
Selfs byeboere in Richardsbaai wat gewoonlik al 40 tot 60 ton uitgehaal het, sê hulle staan net op sowat sewe ton.

Mnr. Nel self het geweldig skade gely toe 10 van sy korwe uitgebrand het tydens ’n veldbrand by Roberts Landgoed drie weke gelede. “Ek het 300kg heuning verloor!”

•Persone wat bye wil laat verwyder, kan mnr. Nel bel by 083 655 0179.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button