Trokdrywer hou kop en stop nie vir kapers
’n Trokdrywer het gister kopgehou en aangehou ry toe kapers hom van die pad af wou dwing op die N12.

Mnr. TC Choba (van Toro Truck Bodies, Potchefstroom) het ’n sug van verligting geslaak toe hy gistermiddag omstreeks 14:30 veilig by Middelburg Isuzu aangekom het.
Mnr. Reghard Botha (trokverkoopsman, Isuzu Middelburg) sê mnr. Anton Mooi (van Toro Truck Bodies) het hom vanaf Potchefstroom gebel en gesê dat mnr. Choba hom gebel het vir hulp, aangesien gewapende rowers hom van die pad af probeer dwing.
Mnr. Choba het gesê dat ’n swart VW Polo sowat 20km voor eMalahleni langs hom op die N12 inbeweeg het. Hy het gesien dat daar drie insittendes is.
Die volgende oomblik het twee rowers hul hande by die vensters uitgesteek en wapens op hom gerig en gewys hy moet aftrek.
Hy het ook opgemerk dat daar ’n wit Ford Ranger agter hom inbeweeg, wat waarskynlik deel is van die kaping.
Mnr. Choba het besluit om aan te hou ry en vir hulp te bel. Die VW Polo het op ’n stadium voor hom rem getrap, maar hulle het besef hy gaan nie stop nie en moes vinnig uit te pad uit kom.
By die Highveld Steel afrit, net buite eMalahleni het die VW Polo weggedraai. Na ’n rukkie het hy ook nie meer die Ford Ranger opgemerk nie en aangeneem dié voertuig het ook weggedraai.
Die plan was dat hy die roete via die ou Middelburg/Witbankpad sou neem, maar mnr. Botha het vir hom gesê hy moet eerder deur die tolhek ry, omdat hy bang was dat die kapers moontlik in daardie rigting vir hom sou wag.
“Ek is dankbaar dat hy kopgehou en nie gestop het nie, want dit het waarskynlik sy lewe gered,” het mnr. Botha gesê.
•Mnr. Botha het gemeld dat daar in die afgelope paar maande al ’n paar keer gepraat is van ’n VW Polo wat betrokke kan wees by kapings en ander rooftogte in die eMalahleni en Middelburg omgewing.
