News

VIDEO: Veertienjarige vertel self hoe hy tienjarige van waterdood gered het

Reghard Vorster (14) besef nog nie hoe ’n groot held hy is nie, hy het net outomaties gedoen wat hy geleer is om ’n tienjarige dogtertjie se lewe te red.

Die Nasionale Seereddings Instituut het laat weet dat hulle vir hom ’n toekenning wil oorhandig. Vanoggend het die Nasionale Landsdiensorganisasie laat weet dat hy ook die hoogste toekenning Desembermaand sal ontvang tydens die nasionale kamp in Pretoria.

Reghard sê hy het by verlede jaar by die Nasionale Landsdienskamp, waar hy ook sy Junior Springbokkleure ontvang het, geleer hoe om KPR (Kardiopulmonêre resussitasie) te doen. “Ek het net toegepas wat hulle vir my geleer het,” vertel hy, terwyl hy soos ’n tipiese tiener met die kussing op sy skoot speel.

Dié jong held van Middelburg het sy verhaal vertel.

Paramedici op die toneel besig met dr. Heike Geduld (donker hare) wat die dogtertjie se kop vashou. Sy het by Reghard oorgeneem nadat hy die kind se lewe met KPR gered het.

Die Vorster familie was verlede week in Melkbosstrand waar Reghard aan die nasionale trampolienkampioenskappe deelgeneem én boonop sy afdeling gewen het.
Hulle was Saterdag besig om op te pak by die Oukip Karavaanpark en Reghard het besluit om gou nog ’n rukkie by die swembaddens te gaan baljaar.

Reghard het ’n dogtertjie in die swembad opgemerk wat met haar handjies teen die kant beweeg het.

Hy het so rukkie in die groot swembad gespeel en het daarna na die kleiner swembad gegaan, want hy het gedink die water sal warmer wees.

Met sy terugkeer na die groot swembad, omstreeks 16:30, het hy gesien dat die dogtertjie aan die diepkant, waar dit twee meter diep is, op die bodem lê.
Hy het vir ’n breukdeel van ’n sekonde gedink dat sy dalk net ’n speletjie speel, maar gesien sy lê stil en het ingespring.

Reghard afgeneem pas nadat hy die dogtertjie in die hande van noodpersoneel oorgegee het.

Reghard het haar tot by die staaltrappies getrek, waar hy homself met sy een been geanker en haar oor die rand getrek het.
Hy het gesien dat sy nie asemhaal nie en met KPR begin. Hy het aangehou tot sy twee keer water opgebring en hy gesien het daar is ’n asemhaling.

Die dogter se broer het intussen opgedaag en hy het vir hom gesê om te gaan hulp soek.

’n Vrou, wat op ’n balkon bokant die swembad gestaan het, het vroeër gestaan en kyk hoe Reghard in die water baljaar en ook die dogtertjie in die swembad opgemerk. Sy was ’n klein rukkie in die kamer in en met haar terugkeer het sy gesien hoe die seun besig is met KPR.

Sy het gehardloop om te gaan hulp kry en aanmekaar gegil: “roep dr. Heike!”

Dr. Heike Geduld is die hoof van die mediese afdeling van die Stellenbosch Universiteit en het ’n troue, wat reg langs die swembaddens in ’n tent gehou is, bygewoon. Sy was na die troue reeds besig om in haar voertuig te klim, toe mense haar kom haal om te gaan hulp verleen langs die swembad.

Sy het by Reghard oorgeneem en die dogtertjie begin warm maak. Daar het ook ander gekwalifiseerde mediese personeel, waaronder ’n hospitaalsuster, kom help. Almal was gaste by die troue.
’n Van diens af lid van die Nasionale Seereddingsinstituut, me. Natasha Kriel, het ook hulp verleen.

“Dit het lank geneem voordat die kind reageer het,” vertel Reghard se ma, Brenda.

Sy het haar ook na die swembaddens gehaas nadat ’n kind op Reghard se versoek gevra het dat hulle moet kom. Die seun se boodskap was dat iemand net geval het en hulle het gedink dit is ’n trouganger.

Reghard saam met sy trotse ouers, André en Brenda Vorster.

Hul ander seun het egter gaan ondersoek instel en vir hulle kom sê dat Reghard KPR op ’n dogtertjie gedoen het.

Me. Vorster, wat self 10 jaar verpleeg het, is na die swembad, waar daar gelukkig op daardie stadium genoeg hulp op die toneel was.

Sy vertel dat hulle weens die dogtertjie se toestand, op ’n stadium besluit om haar self hospitaal toe te neem en het hulle ’n voertuig ingerig. Op hierdie tydstip het die paramedici opgedaag en die kind na die West Fleur Hospitaal in Atlantis afgevoer.

“Die kind se ma het my daar langs die swembad gedruk en dankie gesê dat Reghard die dogtertjie se lewe gered het.”

Hulle het intussen verneem dat die dogtertjie die volgende oggend ontslaan is. “Sy het niks oorgehou nie.”

Reghard se pa, André, sê dat aldrie sy seuns al op driejarige ouderdom deur hul oupa, Giel Ellis, geleer is om te swem. Hulle was baie dankbaar toe die kinders tydens verlede jaar se nasionale landsdienskamp geleer is om KPR te doen.

“Ons sou graag met die dogtertjie se familie in kontak wil kom, maar ons kon nie ’n nommer in die hande kry nie. Daar langs die swembad was die kind se welstand baie belangriker as om te vra vir name en ander inligting.”

•Reghard doen tuisonderrig weens sy besige program as ’n Tuks Trampoliener.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button