‘Merkers’ maak inwoners senuweeagtig
Die dag voor Whelma du Toit se kop oopgekloof is tydens ’n huisroof, was daar koeldrankdoppies gepak in die oprit van hulle huis in Kanonkop.
Net ’n dag later is koeldrankproppies in een van die bure se oprit gekry.
Sedertdien laat weet inwoners van Kanonkop en Dennesig op ’n daaglikse basis dat daar koeldrankdoppies in hul opritte gekry word en dat hulle bang is vir aanvalle en inbrake.
Buiten me. Du Toit se voorval, was daar nog nie weer ’n inbraak of aanval by enige huis waar daar doppies in die opritte of voor erwe gekry is nie. Die inbrake was by ander huise.
Dit is volgens lede van die noodgroepe wat gereeld patrollies doen, asook me. Rehana Pilodia (voorsitter, Gemeenskapspolisiëringsforum).
Me. Pilodia het op ’n noodgroep gesê dat die voorkoms van koeldrankdoppies op sypaadjies en opritte baie meer word Woensdae wanneer die sakkrappers plastiekbottels uithaal. Sy wonder of hulle nie net die doppies afhaal en dit daar neersit nie.
Lees ook: Vrou geweldadig in Middelburg aangeval
Inwoners het egter gemeld dat dié merkers in vorms, soos halfmane en selfs diamantvorms gepak word.
Noodgroepe, asook polisielede het inwoners gemaan om hierdie merkers dadelik te verwyder wanneer hulle dit kry, maar merkerkenner, Corné Koen, stem nie heeltemal saam nie.
Mnr. Koen (wat in Standerton bly) was vir jare in die weermag se intelligensie-afdeling. Hy was ook deel van ’n spesialiseenheid wat tussen 1987 en 2004 gespesialiseer het in ondersoeke van plaasaanvalle waar spesifiek merkers gebruik is.
Mnr. Koen vertel dat sy eie huis op ’n stadium gemerk is en dat hy die merkers gelos het, waarna nóg gevolg het en hy uiteindelik hul patroon kon navolg en die skuldiges, wat betrokke was, kon vastrek.

Alhoewel hy net die persone wat die merkers gepak het, later vasgetrek en hulle skuldig bevind is aan beskadiging van eiendom, het hulle op hierdie manier ander verdagtes geïdentifiseer wat betrokke was by ander misdade.
Mnr. Koen sê hy wil nie uitsprake maak oor wat die doppies spesifiek beteken nie.
“Dit hoef nie noodwendig na jou huis toe te verwys nie, dit kan verwys na jou buurman. Dit kan aanwysings wees van kultuurgroepe, okkultiese tekens of selfs tekens tussen dwelmverslaafdes en bendes.”
Hy sê indien dit ’n ernstige merker is, sal daar beslis ander merkers ook wees, soos voetspore, wat na gekyk moet word, om te bepaal wat hul beplanning is.
Hy kan byvoorbeeld nie uit ’n foto van net ’n paar doppies wat van bo af geneem is, sien wat die merker se bedoeling is nie. “Die merker se lyn na die huis of huise in die omgewing, moet ook afgeneem word. Verder moet ek weet of daar ander merkers in die omgewing is, voor ek ’n idee kan kry.”
Mnr. Koen sê die spesifieke kleure van merkers het ook spesifieke betekenisse, maar dat koeldrankproppies nie noodwendig in hierdie kategorie val nie.
Lees ook: Inbreker vlug toe vrou skree
•Groen of blou beteken ’n maklike teiken.
•Oranje, geel of bruin beteken: wees versigtig.
•Rooi is ’n teken van gevaar (soos ’n wapen op die perseel) en dat alles gestop moet word.
Mnr. Koen het gesê hy sou graag Middelburg se noodgroepe, asook polisielede wou oplei om presies te weet hoe die merkers werk en waarvoor om uit te kyk. Hy het aangedui dat hy hierheen sal pendel vir ’n kursus, wat hy gewoonlik op ’n Saterdag aanbied.
Me. Pilodia het gesê dat sy mnr. Koen beslis sal nooi om lede van die GPF, asook ander noodgroepe en polisielede op te lei. Sy het aangedui dat sy hom dadelik sal kontak om reëlings te tref vir sodanige opleiding.
•’n Vrou het vanoggend op ’n noodgroep laat weet dat sy met die sakgrawers gepraat het en uitgevra het oor die doppies op die sypaadjies.
Hulle het vir haar gesê dat hulle nie die doppies soek nie en dit net neergooi waar hulle leë bottels uithaal. Sy het uitgevra, omdat sy gesien het hulle gooi die doppies op die gras.