News

Twee vroue tem Afrika kilometer vir kilometer

'n Ma- ma en dogterspan was verantwoordelik vir die skuif van 'n hele Boranstoet van Namibië na Suid-Afrika wat as gevolg van die kwellende droogte óf geslag óf verkoop moes word.

Twee plaaslike boere het besluit om in te gryp, nadat hul boesemvriend, wat in Mariental in Namibië boer, laat weet het dat hy al sy beeste sal moet laat slag, weens die droogte wat tans daar heers. Hy het nie meer die finansies gehad om voer aan te koop vir die net meer as 200 diere nie.

Dit sou beteken dat die genepoel, wat sorgvuldig oor meer as ‘n dekade uit verskeie bloedlyne geselekteer is, verlore sou gaan. Die plaaslike boere het begin planne maak om die diere Stoffberg toe te laat skuif. Hulle moes ‘n vrag voer Mariental toe stuur, om die diere aan die lewe te hou.

Dit was ‘n groot logistieke operasie met elke dier wat vir siektes getoets moes word en invoer- en uitvoerpermitte wat gereël moes word. Daar is gejaag teen tyd, omdat baie van die diere reeds swak en maer was as gevolg van die droogte, wat ook hul vervoer sou bemoeilik.

Ma en dogter Katja Pienaar en Ilona Herrle, is kenners hoe om diere van een land na ‘n ander, soms vanaf verafgeleë punte, deur moeilike grensposte en in uiterse weerstoestande te vervoer. Hulle het al diere so ver as Tanzanië en Zambië vervoer, ken van wiele omruil, paaie oopkap en vragmotors wat vassit.

Lees ook: Wat nou met bek-en-klou?

Moet ook nie vir een oomblik dink dat die ma en dogter ‘n paar gesette onversorgde vroue is nie! Hulle is beide goed versorg met fikse en fietse lyfies.
Die vroue het ‘n streng limiet oor hoeveel diere daar per hok gelaai mag word, en sorg dat daar kos en water op die pad gevoer word.

Met die beeste wat vir Stoffberg bestem was, is daar besluit om die diere in twee sarsies te vervoer. Die eerste vrag, van net oor die 100 vroulike diere en kalfies, het net voor Nuwejaar die lang tog, van meer as 1 500 km, Stoffberg toe aangepak in ‘n dubbeldekker vragmotor met Ilona aan die stuur. Sy het die Vrydag in Namibië gelaai en het vroeg Sondagoggend in Stoffberg aangekom.

Die troppie brandmaer diere, gedoop “Die Namibiërs” het met hul aankoms gesorg vir emosionele oomblikke. Die diere was glad nie gewoond aan groen gras nie. Hulle het gulsig gehap na hope vrot baalgras, wat uitgesit is op die laaibank, om te keer dat hulle met die afklimslag gly, terwyl hulle die sappige kikoejoegras nie eens raakgesien het nie.

Die koeie loop tans in die Stoffbergomgewing waar hulle wag vir die res van die trop om by hul aan te sluit. Weens ‘n fout deur die staatsveearts in Namibië, moes van die diere oorgetoets word en sal hul heel moontlik eers volgende week vervoer kan word. Die beeste wat reeds in Stoffberg is, sterk goed aan.

•Me Katja Pienaar vertel dat sy uit nood moes begin vragmotor ry toe hul boerdery in Magaliesburg in finansiële moeilikheid beland het. Haar dogter het van jongs af saam met haar gery.

Lees ook: Veg terug teen veediefstal

Sy het vir ’n man, wat in die invoer en uitvoer van lewendehawe gespesialiseer het, vragmotor gery en later sy besigheid oorgekoop toe hy aftree. Een van die langste togte wat hulle al aangepak het, was toe daar melkbeeste van Eldoret in Kenia na die Wes-Kaap, meer as 6 000 km ver, vervoer moes word.

Die vroue is gesout as dit kom by elke land se verkeersreëls en uitdagings. Ilona vertel dat verkeerskonstabels in Zimbabwe jou gewoonlik aftrek met die woorde “I am here to arrest you” en jou vragmotor dan met ’n vergrootglas deurgaan vir ’n beboetbare fout.

Daar is ook al op ’n slag 700 liter diesel uit een van hul trokke in Zimbabwe gesteel. Hulle kon dit egter met die hulp van plaaslike inwoners terugkry. Die vroue sê dat hulle ekstra dieseltenks laat insit het en verkies om hul hele dieselvoorraad van Suid-Afrika af saam te ry om die risiko van vuil diesel in ander lande uit te skakel.

Een van die grootste uitdagings vir die vroue is om skoon badkamers te kry. Hulle sê ook dat baie boere aan die begin skepties is oor hul vermoëns om die diere veilig en effektief in sulke groot vragmotors te vervoer.

As die diere eers gelaai is, is daar nie tyd vir probleme nie. So het sy al ’n Chinese konstruksiemaatskappy oortuig om ’n grondverskuiwingsmasjien 40km ver te laat ry, om haar vragmotor vol varke, wat in die sand in Namibië vasgeval het, uit te grou.

Katja moes weer blitsvinnig in haar kajuit in vlug, toe sy besig was om die vragmotor, wat in Botswana vasgeval het, uit te grou en agter kom dat ’n trop leeus haar dop hou.

 
Back to top button