Karavaan in Aerorand deur vlamme verwoes
Bolle rook is van ver af gesien nadat ’n karavaan in Aerorand onverklaarbaar aan die brand geslaan het.

Die Nelshoogtestraat inwoners was vol lof vir die brandweer, wat vinnig gekeer het dat die brand na die huis versprei het.
Die Mobi Lodge karavaan het langs die huis onder die afdak gestaan.
Volgens ’n Nelshoogtestraat inwoner, André Janeke, was die brandweer se reaksie uitstekend.
“Mens besef nie watter wonderlike werk hulle doen tot jou lewe in gevaar is nie, maar hierdie manne was vinnig op die toneel en het hulle eie lewe in gevaar geplaas om te keer dat die brand versprei.”

Die ingang tot Nelshoogte was tydens die brand afgesper om mense se veiligheid te verseker, omdat twee gassilinders naby die karavaan gestaan het. Die gassilinders is egter deur die brandweer verwyder.
• Die vrou en haar dogter wat in die huis woon, was tuis toe die brand ontstaan het, maar weens skok wou hulle nie op die toneel verder met die Middelburg Observer praat nie.
Dit is bevestig dat niemand in die brand beseer is nie, maar die welstand van die gesin se honde is onbekend.