Skole se toere beïnvloed deur virus
Almal word gebombardeer met vrae na aanleiding van die nasionale proklamasie oor die koronavirus.
Word alles nou skielik afgestel en wat gebeur met die skole se beplande toere?
•Hoërskool Kanonkop se toere vir die vakansie is afgestel, het die skakelbeampte, Christelle Nel, vanoggend gesê. Die skool se spanne sou toer na Potchefstroom en Volksrust en sou gaan op “Camp Discovery”.
•HTS Middelburg het laat weet dat hulle besig is met vergaderings en ook eers later antwoorde kan verskaf.
•Steelcrest High School het bevestig dat hul toere uitgestel, of alternatief, afgestel gaan word.
•By Laerskool Dennesig het me. Ria Boshoff (Departementshoof, Opvoedkundige leiding) gesê dat hulle wag vir ’n amptelike kennisgewing van die Departement van Onderwys.
“Sou die toere nie aangaan nie, is daar planne dat gelde aan ouers terugbetaal word.”
•By Middelburg Primary School het mnr. Renier Loubser (hoof) gesê dat hulle teen 12:00 vandag ’n volledige verslag aan hul ouers sal uitstuur rakende die toere.
“Maar tot dusver is alles gekanselleer”.
•By Laerskool Kanonkop sal daar ook later vandag eers ’n antwoord aan ouers gegee kan word.
•Laerskool Middelburg is ook besig met vergaderings sodat hulle later vandag finaal antwoorde kan verskaf.
•Laerskool Staatspresident C.R. Swart is tans besig met vergaderings rakende die toere.
• Hoërskool Middelburg sê dat alle skooltoere en sportweke waaraan MHS leerlinge sou deelneem, afgestel is. Skoolhoof, Johan Stronkhorst, sê dat hulle vanoggend ’n persverklaring op skrif ontvang het by die skool.
“Dit help nie die president neem leiding en ons volg nie. Daar is baie meer op die spel as net ’n toer,” sê mnr. Stronkhorst.
