Klip of koeël tref voertuig tydens moontlike kaping
’n Klip wat uit die niet uit teen sy kar se venster gegooi is, laat ’n jong man vermoed dat iemand hom vanoggend wou kaap op pad werk toe.
Mnr. Andries Botha sê hy het omstreeks 05:10 vanaf Aerorand in Samora Machelstraat gery in die rigting van die N4.
Net voor die stopstraat om onder deur die brug te ry, het hy ’n geweldige slag gehoor. Sy linkerkantste passasiersruit voor het regdeur fyn gekraak en gelukkig nie gebreek nie, aangesien sy vensters veiligheidsfilm op het.
In daardie breukdeel van ’n sekonde het hy besluit om aan te hou ry, want hy het besef dat die booswigte wil hê hy moet stop, om hom te kaap.
“Ek het niemand langs die pad sien staan nie, maar die klip, of wat dit ook al was, het van daardie grondpaadjie aan die linkerkant, net voor die stopstraat, se rigting gekom.”
By sy werk het hy die skade bekyk en gesien dat daar merke aan die bokant van die deur en op die venster is.
Hy glo dit is ’n klip wat die venster getref het, maar na aanleiding van die merke, kon dit ook ’n koeël gewees het wat die venster aan die bokant van die deur kon getref het.
Mnr. Botha het nog nie die saak by die polisie aangemeld nie, maar het aangedui dat hy vanmiddag die voorval sal gaan aanmeld.
