Met ‘Lofprysing in Lockdown’ weerklink Onse Vader oor dorp
Die suiwer klanke van die “Onse Vader” het stiptelik sewe-uur gisteraand dwarsoor Middelburg weerklink...
Talle Christelike Afrikaanse en Engelse liedere het daarna gevolg en is uiteindelik afgesluit met “Ons Koning Kom”, gesing deur Juanita du Plessis.
“Wat is besig om in Middelburg te gebeur?” het talle gevra en saamgesing.
Hierdie besondere oplewing het gisteraand begin met ’n groep, genaamd: ‘Lofprysing in Lockdown” wat vanaf 19:00 tot 19:30 in saam musiek gespeel het.
DJ’s in Aerorand, Kanonkop, Dennesig en Gholfsig het hul klanktoerusting so geplaas dat almal gisteraand kon saamluister. Daar was ook mense wat die musiek via die WhatsApp groepe van hul selfone af deur klanktoerusting kon speel en luister.
Die idee het gekom van Werner Malan. Hy het pas vir www.mobserver.co.za vertel dat hy vir die “Here wou dankie sê” wat hom en sy vrou, Maryna, deur ’n moeilike tyd verlede jaar gedra het.
As DJ het hy vroeg in die jaar al begin beplan om ’n lofprysingsgeleentheid te hou.
“En toe kom die virus en stop al my planne.”
’n Nuwe gedagte het egter Sondag by hom opgekom en hy en sy vrou het Sondagaand om 19:00 Christelike musiek vanaf hul huis begin speel.
Die mense in die omgewing en van hul vriende en DJ’s wou dadelik deel word daarvan en is die Facebook- en WhatsApp groepe begin.
Hy en twee ander DJ’s in ons dorp, Tiaan Lessing en Christo Coetzer, het telefonies onder mekaar begin onderhandel om musieklyste op te stel.
Giser het die drie ’n speellys saamgestel. Me. Malan hanteer die administrasie en het Woensdagaand die aftelling gedoen dat almal op presies dieselfde tyd na die musiek kon luister en kon saamspeel.
Al wat mense moet doen is om deur WhatsApp of Facebook aan te sluit en hulle kan elke aand byvoorbeeld deur hul voertuie en klankstelsels die musiek volg en speel. Onthou die aftelling.
Die Facebookskakel is: https://www.facebook.com/groups/2623881531220845/
Die speellys verander daagliks en word aangestuur soos dit voltooi word.
Persone wat op WhatsApp bygevoeg wil word, kan mnr. Malan of sy vrou WhatsApp by 073463 5100 of 083 443 4660.
