Covid-19 kry kerke nie onder
Waar predikante Sondae in swart togas van die preekstoel af gepreek het tussen Psalms en Gesange deur, het hulle nou die preekstoel vir die gemaklikheid van hul eie studeerkamers geruil soos ds. Colin Hertzog van die Hervormde Kerk Middelburg Noord Sondag gedoen het.
Plaaslike leraars het almal nou nuwe innoverende maniere uitgedink om toe te sien dat hul gemeentes geestelik versorg word.
Talle plaaslike kerke is lank reeds aktief op sosiale media met lewendige aanlyn strome tydens hul preke.
Maar nou is die kerke leeg en die leraars tuis, soos hul gemeentelede.
Bykans al die plaaslike kerke lewer nou virtuele dienste direk na inwoners se fone of rekenaars.
Ds. Hertzog het Sondag van agter sy lessenaar in sy studeerkamer sy boodskap direk op Facebook uitgesaai.
Pastoor James Lennox van Solid Ground en pastoor Danie de Kock van Corpus Christi het ook oorgeskakel na aanlyn preke.
Dr. Tinus van der Merwe van die Lighuis sê hulle lewer daagliks geestelike boodskappe aan hul gemeente vanuit hul huise.
Sondae lewer hulle vol dienste op YouTube en Facebook en die afgelope Sondag het 480 van Lighuis se gemeentlede vir die preek ingeskakel.
Eerwaarde Kokkie Smit van St. John’s Presbiteriaanse Kerk laai preke op YouTube waarna die aanlynskakels van die uitsending op WhatsApp aan gemeentelede gestuur word, sodat hulle op hul eie tyd daarna kan kyk.
Eerwaarde Smit laai ook daagliks Bybelstudie stukke op hul YouTube platform op.
Dr. Abbie Thela van Christ Centred Ministires in Mhluzi sê dat hy daagliks kort preke op sy selfoon opneem en aan sy gemeentelede WhatsApp.
Apostel Michael Dlamini van Grace of Salvation Ministries in Hlalamnandi sê dat hulle gebruiklik Maandae, Woensdae, Vrydae en Sondae dienste by die kerk aangebied het, maar dat alle dienste nou gestaak is.
Hy stuur gebede op WhatsApp na sy gemeente op ’n daaglikse basis.
“Dis moeilike tye maar ons sal hierdeur kom met God se genade,” sê Apostel Dlamini.
